Windhoek-wenner gekies vir die kollig!
Die wenner van ATKV-DigiToneel 2024 is op 11 November bekendgemaak tydens die laaste episode van Gekies vir die Kollig, die ATKV se realiteitsreeks op VIA (DStv-kanaal 147) ná ’n simbiotiese reis van agt maande op soek na die jongste talent vir die kamera.
Marelee Ferreira (18) van die Curro Windhoek Gymnasium het die beoordelaars in die finale ronde beïndruk met haar selfgeskrewe monoloog, In my kop…
Marelee het sedert 2020, toe sy in graad 8 was, aan ATKV-DigiToneel deelgeneem en jaarliks astronomiese groei getoon om uiteindelik hierdie titel los te slaan.
Marelee is daarvan oortuig dat deursettingsvermoë die enigste werklike weg na sukses is. Sy benadruk: “Afrigters en omstandighede hoef nie ’n struikelblok in jou pad te wees nie. As jy passievol oor iets is en elke geleentheid met albei hande vasgryp en die beste daarvan maak, oop is om altyd iets nuut te leer en deursettingsvermoë het, kan jy bo uitkom, al het jy nie dieselfde geleenthede of blootstelling in jou gemeenskap nie.”
Sy is uit en uit ’n storieverteller en dit is haar droom om stories wat ’n verskil kan maak aan mense te vertel. Sy wil in die bedryf ontwikkel en agter die skerms ook ’n plek inneem.
“Marelee Ferreira is ’n naam wat jy moet onthou!” sê JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV se toneelaanbod, wat weer vanjaar in die regisseurstoel van Gekies vir die Kollig gesit het.
“As jy met groot passie en deursettingsvermoë hard kan werk en geduldig wag vir jou oomblik, is die wêreld joune! Dit was ’n voorreg om die groei en harde werk van Marelee te kon dophou van die ontstaan van hierdie platform in 2020, en nou saam met haar daardie harde werk en deursettingsvermoë te vier! Sy is ’n voorbeeld vir baie jongmense en ’n inspirasie vir my! Ek hou haar loopbaan met groot belangstelling dop!”
Die wenmentor Jacques Bessenger is net so trots op Marelee. Jacques voel dat Marelee die meeste van hierdie projek en platform gemaak het omdat sy self, sonder enige professionele hulp, elke aspek deurdink het, geëksperimenteer het, mentorskap geneem het en daarmee saam hard gewerk het. Jacques sê dat sy basies ’n monoloog in ’n klein kortfilm omgeskep het.
“Dit is merkwaardig dat sy self skryf, verfilm, redigeer, speel en haar eie regie doen – en dan nog op so ’n jong ouderdom ook!” beklemtoon Jacques.
Die naaswenner van ATKV-DigiToneel is Rico Immelman van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp met sy monoloog, Veertig sekondes van vryheid, geskryf deur Robert Kruger.
Die derdeplekwenner is Nina Strydom van die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes, wat ’n sterk indruk op die beoordelaars gemaak het met haar monoloog, Tree hugger, deur Lindie Strydom.
Almal betrokke by hierdie projek is dit eens dat ATKV-DigiToneel ’n unieke platform is wat deelnemers die regte boustene gee om diep te delf en die kuns van toneelspel voor die kamera te vervolmaak. Die proses is tydsaam en die beloning is groot, want elke deelnemer belê in hulself deur die platform as wegspringblok te gebruik. Elkeen wat vanjaar hierdie geleentheid aangegryp het, het as’t ware in die toekoms belê en ’n verskil teweeggebring.
Die wenner van ATKV-DigiToneel ontvang R7 000 kontant en die ATKV-DigiToneeltrofee. Die naaswenner stap weg met R5 000 kontant en die derdeplekwenner ontvang R3 000.
Die toptekste word weereens aanlyn gepubliseer.
Die ATKV is geweldig trots op ons vyfde monoloogbundel, wat in 2024 onder ’n nuwe temawolk gepubliseer word.
Jy kan hierdie bundel gratis op die ATKV se webwerf aflaai by https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digitoneel/.
Die deelnemersgids vir 2025 word aan die begin van Desember bekendgestel en beloof weer ’n vars kinkel vir die kreatiewe jong talent wat volgende jaar wil deelneem en hul eie debuut op die kassie wil maak.
As jy enige uitsendings van die reeks misgeloop het, kan jy nou die boksstel van Gekies vir die Kollig op DStv Catch Up kyk.