Woordveertjies 2026: Uitnemendheid bekroon
Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord.
In die kategorie Prys vir Spanningslektuur, een van die mees snelgroeiende en gewildste genres in Afrikaans, was die beoordelaars Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen.
Die wenner vanjaar is Deon Meyer met Skorpio, uitgegee deur Human & Rousseau.
Die beoordelaars sê as spanningsverhaalskrywer met internasionale aansien het Deon Meyer hom oor die afgelope drie dekades as ’n meester van misdaadfiksie bewys. Derhalwe word elke nuwe Meyer-roman aan buitengewoon hoë verwagtinge onderwerp: die uitdaging is nie meer bloot om ’n goeie spanningsverhaal te skryf nie, maar om binne ’n gevestigde en hoogs herkenbare oeuvre (en genre) steeds te verras.
Met Skorpio slaag Meyer uitstekend daarin.
Die roman demonstreer opnuut Meyer se buitengewone beheer oor die “argitektuur” van die spanningsverhaal: die fyn dosering van inligting, die afwisseling tussen verhaallyne, die manipulasie van lesersverwagtinge en die geleidelike samevloeiing van oënskynlik onverwante gebeure.
Veral opvallend is die wyse waarop Meyer in Skorpio die morele sekerhede waarop die tradisionele misdaadverhaal berus, kompliseer. Die onderskeid tussen reg en verkeerd, skuld en onskuld, word toenemend minder vanselfsprekend.
Lindie Koorts, Jean Meiring en wyle Bettina Wyngaard het vanjaar as beoordelaars opgetree in die kategorie Prys vir Niefiksie.
Zirk van den Berg met Landuit, uitgegee deur Tafelberg, is vanjaar die wenner.
Die beoordelaars beskryf Landuit as die roerende oopskryf van ’n ervaring wat vir baie Suid-Afrikaners nie meer ’n vreemdheid is nie. Emigrasie en vat-jou-goed-en-trek-Ferreira het ’n uitwerking op byna elke Suid-Afrikaanse familie. Binne die kader van die groeiende boekrak oor dié onderwerp, staan Landuit uit.
Met snydende eerlikheid en heelwat selfspot en humor, bring dié pastiche-vertelling ’n viertal lewens en die land Nieu-Seeland lewend, onderhoudend en insiggewend voor die oog.
Landuit is ’n tydsdokument; ’n brose en eerlike blik op emigrasie wat vlymskerp deur oorvereenvoudigde opvattings oor die onderwerp sny. Emigrasie, soos Afrika, is nie vir sissies nie. Die leser deel eerstehands in die ontheemding, kwesbaarheid en selfvertwyfeling. Daar is rou en verlies, maar ook deursettingsvermoë, hoop en humor.
Die ATKV-Prosaprys is een van die oudste en mees gerespekteerde letterkundepryse in Afrikaans. Dit word reeds sedert 1984 toegeken aan die skrywer van die beste gewilde prosa wat in die voorafgaande jaar verskyn het.
Vanjaar se beoordelaars vir die ATKV-Prosaprys was Marni Bonthuys, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe.
Patmos deur Willem Anker, uitgegee deur Queillerie, stap met die louere weg.
Die beoordelaars beskryf Patmos as ’n uitskieter-teks, werkstuk en kunswerk – ’n geslypte juweel van ’n teks.
Dit is ruimtelik in omvang, van vóór die oerknal, en ook die toekoms in. ’n Meesterwerk, poëties, ironies, slu, aweregs, speels, belese en in gesprek met eietydse kwessies en eksistensiële krisisse en vrese.
Patmos is bedrieglik eenvoudig en verstommend kompleks. ’n Verhaal wat vertel word deur middel van verskillende genres, uitsonderlike karakters wat weerloos én sterk is. Die roman word beskryf as liries in aanbieding, mineur in toon, droewig en pragtig en perfek.
Die storielyn is in wese die liefdesverhaal van twee karakters wat beide erge trauma en pyn ervaar voor hulle ontmoet. Die vroulike hoofkarakter is ook die ma van ’n stom seuntjie wat die derde belangrike karakter in die roman verteenwoordig. Hoe hierdie drie karakters mekaar vind om ’n gesin te vorm, ten spyte van die talle struikelblokke wat hulle moet oorkom, word met teerheid geskets sodat hierdie eksperimentele roman ’n diep menslike verhaal word wat die leser ontroer.
Hartlik geluk aan al die wenners van vanjaar se ATKV-Woordveertjies! Dit is vir die ATKV ’n voorreg om Afrikaans se woordmeesters op hierdie manier te vereer.