Yster-onnie tree uit as voog van ATKV-jeugtak
Jy kan maar amper sê dat die ATKV deur Johanna Swanepoel se are bruis. Nie net kamp sy en haar gesin al vir die afgelope 20 jaar by ATKV-Hartenbos nie, maar sy is ook sedert 1999 ’n aktiewe ATKV-lid. Sy het die ATKV-jeugtak Rabieratels in 2015 gestig en is deesdae ’n lid van die ATKV-tak Potpourri in Gqeberha, voorheen Port Elizabeth.
“Afrikaans lê my baie na aan die hart. My ouers was ATKV-lede en Afrikaans was die eerste prioriteit in ons huishouding. Ek het grootgeword in ’n huis waar daar ’n passie vir die ATKV en vir Afrikaans was,” sê sy.
Sy het as voog van die ATKV-jeugtak Rabieratels uitgetree toe sy vanjaar as onderwyser by die Hoërskool Andrew Rabie afgetree het.
“Ek gaan steeds aktief betrokke wees by die tak en help waar ek kan.”
Volgens haar het sy dié jeugtak agt jaar gelede gestig nadat sy besef het daar is minder Afrikaanssprekendes in die skool.
“Daar was heelwat meer Engelse leerders by die skool en ek wou graag Afrikaans behoue laat bly en dit terselfdertyd bevorder. Ek wou hê leerders moes steeds ’n passie en ’n liefde vir hul moedertaal hê.”
Sedertdien het die tak verskeie projekte van stapel gestuur en ’n wesenlike verskil in hul gemeenskap gemaak.
“Ons het veral minder gegoede skole gehelp en jaarliks vir hulle skryfbehoeftes en ander benodigdhede geskenk. Elke jaar word daar ’n kleurvolle pretloop gehou om fondse in te samel en ons het ook jaarliks ’n matriekbederf, waar ons die matrieks aanmoedig en motiveer vir hulle eindeksamen deur vir hulle lekkernye, koffie en skryfbehoeftes te gee,” sê sy.
Johanna is veral trots op die Afrikaanse week wat hulle gehou het.
“Weens die pandemie het ons nog nie weer ’n Afrikaanse week gehou nie, maar dit was altyd ’n hoogtepunt vir die leerders. Tydens só ’n week het hulle ’n talentkompetisie gehou, gedigte voorgelees en bekende kunstenaars soos Early B en Refentse gekry om by die skool te kom optree. Dit was ’n week waar oud en jonk Afrikaans kon vier.”
Johanna sê sy wens haar jeugtak net die beste vir die toekoms toe.
“Die tak is in goeie hande met Danette Smook wat by my oorneem en ek hoop dat hulle steeds in hulle taal sal woeker en nog baie suksesvolle projekte sal hê.”