AJV: ATKV dra die fakkel van hoop
Vir die tweede jaar agtereenvolgens moes afgevaardigdes van ATKV-takke voor hulle rekenaars inskuif om die ATKV se algemene jaarvergadering (AJV) “by te woon”.
’n Heerlike geselligheid by een van die ATKV se spogoorde was weens die Covid-19-pandemie niemand beskore nie. Een ding is egter seker, al was die AJV aanlyn, het dit nie die afgevaardigdes se entoesiasme gedemp nie.
Vanjaar se AJV het op 14 Julie virtueel plaasgevind en die tema was “Meer as net ’n reis”.
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, het in haar toespraak gesê dat die afgelope jaar ongekende uitdagings en talle risiko’s meegebring het, maar selfs teen hierdie agtergrond moet die belangrikheid van hoop en die rol wat die ATKV in Suid-Afrika speel, beklemtoon word.
“Ongeag al die uitdagings kon die ATKV ook vanjaar die fakkel van hoop ver en wyd dra, en kon ons aktief betrokke by mense en gemeenskappe wees.”
Dr. Adriana Marais, ’n teoretiese fisikus en tegnoloog, was die gasspreker. Sy is wêreldbekend en het ’n passie vir ekspedisies na verafgeleë plekke (selfs die buitenste ruim). Dr. Marais was ook een van die 100 kandidate wat in 2015 gekies is om moontlik ’n kolonie op Mars te stig. Nadat die Mars One Project in 2019 bankrot verklaar is, het dr. Marais Proudly Human gestig.
Volgens dr. Marais is ons dit aan ons voorsate en nasate verskuldig om trots te wees op wat voor ons daar was en op waarheen ons op pad is.
“Dis net met ál ons passie en ons meegevoel, ál ons nuuskierigheid en kennis, as ’n gemeenskap van mense wat deur ’n moeilike tyd reis, wat ons saam kan begin om ’n toekoms te bou waarop ons trots kan wees – op watter planeet ons ook al is.”
Dr. Marais se toespraak is met entoesiasme ontvang en Eleine Roets, afgevaardigde van die ATKV-Tonteldoos in Pretoria, kon nie uitgepraat raak oor wat sy gehoor het nie.
“As jy nie lus het vir Mars nie, moet jy jou tyd op aarde as ’n reis met potensiaal en visie aanpak.”
Alta van Niekerk van ATKV-tak Gariep Dam het haar by Eleine geskaar. Dr. Marais het my amper lus gemaak om Mars te besoek! ’n Baie interessante aanbieding! Ek het die AJV geniet, al was dit nou op Zoom!”
Dylan Tschirpig (17) van die ATKV-jeugtak Lekkerjolig (Ladysmith, KZN) was so beïndruk met die AJV dat hy laat weet het dat hy nie kan wag om ook op universiteit by die ATKV betrokke te raak nie.
Magda van der Walt van die ATKV-tak Stormberg in Burgersdorp sê die AJV was vir haar baie insiggewend en “ek het besef die ATKV is baie meer as net oorde. Dit is ’n groot familie.
“Daar is so baie wat ek aan ons ATKV-tak Stormberg kan oordra om nog 'n groter reis saam met ons gemeenskap te kan beleef.”
Volgens Lianda Victor, takvoog van die ATKV-jeugtak Greysnare in Port Elizabeth was die praatjies absoluut die moeite werd om na te luister. "Dit was regtig ’n inspirerende ervaring te midde van al die negatiewe wat ons tans beleef."
Vir dr. Marais se voorlegging klik hier.