ATKV-Applous 2025 vier koorgees en musiek

Die ATKV-Applous-span is reeds op volle dreef, met opwindende en absoluut onvergeetlike aanbiedings wat in 2025 beplan word.
Benewens ATKV-Applous, die oudste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, werk die span ook saam met die Suidoosterfees aan die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie vir amateurkore en die jaarlikse ATKV-Komposisiekompetisie.
Corneli Quinn, projekorganiseerder van ATKV-Applous, meen ’n skoolkoorkompetisie soos hierdie is van onskatbare belang.
“Die kompetisie is op ’n ongelooflike hoë vlak, wat beteken dat musikale uitnemendheid ten alle tye aangemoedig word. Spanwerk en dissipline word ook bevorder, aangesien koorsang samewerking, luistervaardighede en toewyding vereis – elkeen ’n waardevolle lewensvaardigheid,” sê sy.
Corneli noem verder dat kompetisies soos ATKV-Applous ook lewenslange musikale deelname aanmoedig, met tallose koorlede wat tot in volwassenheid aanhou sing, hetsy in professionele, kerk- of gemeenskapskore. Sy benadruk dat die vreugde wat musiek bied sodoende lewendig gehou word en ook aan opeenvolgende generasies oorgedra word.
ATKV-Applous 2025
Soos die woord “applous” suggereer, word die kore wat aan dié koorkompetisie deelneem met ’n luide handegeklap toegejuig. Die beste van die beste skoolkore word jaarliks tydens die finaal van die kompetisie aangewys, wanneer leerders die geleentheid kry om hul liefde vir Afrikaans en koorsang uit te leef.
Inskrywings vir ATKV-Applous het op 26 Februarie gesluit, met meer as 200 skole wat in 2025 inskryf. Vanjaar sal meer as 16 000 koorlede landswyd aan die ATKV-Applous-skoolkoorkompetisie deelneem!
Alvorens die topkore egter tydens die finaal aangewys word, reis die ATKV-Applous-span, saam met ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees ervare en deurwinterde koorbeoordelaars die land plat.
’n Indrukwekkende 18 streeksfeeste word vanjaar gedurende Mei beplan. Die span maak eerstens ’n draai in KwaZulu-Natal, reis dan na die Vrystaat en Noord-Kaap, waarna Gauteng aan die beurt is. In die tweede helfte van die maand kuier ATKV-Applous in die Oos- en Wes-Kaap, en laastens in Mpumalanga en Limpopo. Tussendeur word daar ook in Namibië ’n draai gemaak.
Laer- en hoërskole kan aan ATKV-Applous se streeksfeeste deelneem. Die kompetisie maak voorsiening vir minder en meer ervare kore om deel te neem deur middel van verskillende afdelings. Klik hier vir die deelnemersgids met meer inligting oor die verskillende kategorieë.
Volwasse gemeenskaps- of streekkore mag ook inskryf en deelneem aan die streeksfeeste. Hierdie kore neem egter in die niemededingende afdeling deel.
In 2025 neem selfs ’n gehoorgestremde koor van die Transoranje-skool vir Dowes aan die streeksfees in Pretoria deel.
Die finaal van ATKV-Applous 2025 vind vanaf 30 Julie tot 2 Augustus in die ZK Matthews-saal by Unisa plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds belowe om ’n spoggeleentheid te wees. Hier sal die crème de la crème van Suid-Afrikaanse skoolkore mekaar die stryd aansê om as dié beste skoolkoor in Suid-Afrika aangewys te word.
Koorleierskursus
Corneli noem dat opleiding en ontwikkeling ook van sleutelbelang vir ATKV-Applous is, daarom bied die ATKV op 15 Maart ’n koorleierskursus in Middelburg, Mpumalanga aan. Die kursus word aangebied deur ervare koorleiers, Riekie van Aswegen en Jeanmari van Papendorp.
Alle deelnemers sal ’n praktiese handleiding vir koorleiers en begeleiers ontvang en aspekte soos oudisies, stembou, repertorium en beoordeling sal ten tyde van die slypskool behandel word. Nog werkswinkels word vir later in die jaar beplan. Meer inligting sal volg sodra dit beskikbaar is.
Inskrywings vir die koorleierskursus te Middelburg, Mpumalanga sluit op Vrydag 7 Maart. Kostes beloop R500 p.p. en sluit kursusmateriaal en verversings in. Klik hier vir die inskrywingsvorm.
ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie
Die Suidoosterfees in Kaapstad bied saam met die ATKV ’n koorkompetisie vir amateurkore aan. “Amateur” word hier verstaan as ’n koor waar selfs die koorleier geen tot baie beperkte musiekopleiding het. Wes-Kaapse kerk-, plaas-, en gemeenskapskore word primêr by die kompetisie betrek.
Weereens is opleiding en ontwikkeling deurslaggewend. Twee werkswinkels word vir vanjaar beplan om die koorleiers en -lede te bemagtig. Koorsangfasette insluitende tempo, intonasie, frasering, diksie, dinamiek, toonkleur, koorklank, begeleiding en beoordeling word by die werkswinkels, wat in Wellington en Ceres aangebied sal word, aangespreek.
Die finale ronde van die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie vind tydens dié kunstefees op 4 Mei 2025 plaas en skop reeds om 08:00 af. Toegang tot die Kunstekaap-operahuis – waar die amateurkore sal wedywer om met die gesogte kroon weg te stap – is gratis .
Die hoogtepunt van die koorkompetisie is die ATKV-Koorgala, wat ook op 4 Mei vanaf 15:30 in die Kunstekaap-operahuis plaasvind. Tydens hierdie onvergeetlike musiekmiddag sal seremoniemeester Frazer Barry die wenners van die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie verwelkom.
Spesiale gaste by hierdie uithalergeleentheid sluit Magdaleen Minnaar en ATKV-Crescendo-sterre Selby Williams en Marsha Bothma in. Die briljante Boogie Band verskaf begeleiding.
Die ATKV-Koorgala sluit op ’n indrukwekkende noot af – ’n massakooruitvoering met die musici, spesiale gaste, en wenners van die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie.
Vir meer inligting oor die Suidoosterfees, besoek gerus die fees se webtuiste.
Kaartjies vir die ATKV-Koorgala kan hier bekom word.
Komposisiekompetisie
Die ATKV-Komposisiekompetisie word jaarliks van stapel gestuur om Afrikaanse koorsang te bevorder. Die kompetisie gee aan komponiste die geleentheid om nuwe, vars Afrikaanse koorwerke te skryf wat uiteindelik tydens die ATKV-Applous-kompetisie gesing sal word.
Aangesien die nuutgeskryfde komposisies tydens die daaropvolgende jaar se ATKV-Applous kompetisie gebruik word, stem die kategorieë ooreen. Weereens word laer- en hoërskole betrek, met afdelings vir meer en minder ervare kore.
Ook hier is die kompetisie van topgehalte en word die beoordeelaarspaneel jaarliks deur ’n moeilike taak in die gesig gestaar. Die paneel bestaan uit hoogs ervare komponiste, koorleiers en koorkenners, wat hulself egter op uitmuntende wyse van hul taak kwyt.
Klik hier vir meer inligting oor die ATKV-Komposisiekompetisie.
Kontak gerus vir Corneli Quinn (ATKV-Applous-projekorganiseerder) per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012 vir enige navrae.