ATKV-Applous vier 49ste finaal in Kaapstad
Vanjaar se ATKV-Applous-finaal beloof om weer ’n spoggeleentheid vir Suid-Afrika se top skoolkore te wees. Die gala-aande word vanjaar vir die 49ste keer aangebied en vind vanaf 29 Julie tot 1 Augustus in die Kaapstadse Stadsaal plaas.
In totaal neem daar vanjaar 38 skoolkore van regoor Suid-Afrika en selfs Namibië aan die uitronde van hierdie gesogte koorkompetisie deel. Die 38 kore ding met mekaar mee in elf kategorieë, insluitend ’n ope-afdeling vir beide laer- en hoërskole, asook laerskoolkategorieë vir meriete Afrikaans, meriete nie-Afrikaanse en prestige kore.
In die hoërskoolkategorieë neem kore deel as gemengde-, meisies- of seunskore.
Benewens dat die ATKV-Applous-koorkompetisie kategoriewenners in die bogenoemde afdelings aanwys, word toekennings ook gemaak vir die beste uitvoering van ’n voorgeskrewe lied, beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie, en beste uitvoering van ’n Afrika-lied, elk in die onderskeie kategorieë.
Die ATKV-Applous-span, vergesel deur ’n kundige span beoordelaars, het gedurende Meimaand na 19 bestemmings in Suid-Afrika en Namibië gereis met die doel om die topkore te identifiseer.
Die beoordelaars het weer vanjaar beklemtoon hoe uitsonderlik hoog die standaard van Suid-Afrikaanse skoolkoorsang is, en voorts benadruk dat ’n kultuur van skoolkoorsang soos in Suid-Afrika gevind inderdaad wêreldwyd buitengewoon en uniek is.
Aangesien die beoordelaars landswyd gereis het, beteken dit ook dat kore van regoor Suid-Afrika aan die gala-aande deelneem. Dus sê kore vanaf groot sentra soos Bloemfontein, Gqeberha, Johannesburg, Kaapstad en Pretoria mekaar die stryd aan teenoor kore vanaf sulke uiteenlopende stede en dorpe soos eMalahleni, Empangeni, Krugersdorp, Nelspruit, Newcastle, Paarl, Potchefstroom, Soshanguwe, Stellenbosch, Uitenhage, en Worcester.
Selfs Namibië word vanjaar verteenwoordig, met ’n Windhoekse koor wat aan die finaal deelneem.
Buiten die uitstekende kore waarna gehore oor die vier aande kan uitsien, sal hulle ook vermaak word deur vanjaar se gasvrou Margit Meyer-Rödenbeck en gaskunstenaar Joshua na die Reën.
Die ATKV is vanjaar veral ook dankbaar vir die Stad Kaapstad se ruimhartige ondersteuning van hierdie jeugprojek wat ten doel het om jong talent te ontwikkel, en waar leerders die geleentheid kry om hul liefde vir Afrikaans en koorsang uit te leef.
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.
Vir meer inligting oor ATKV-Applous, besoek gerus die ATKV-Applous-webblad by https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/applous/.