ATKV-Applous vind vindingryke manier om voort te gaan
As daar een ding is wat die pandemie ons geleer het, is dat die mens aanpasbaar is. Met die inperking moes almal nuwe maniere vind om te midde van ’n verwoestende virus steeds ’n semi-normale lewe te lei.
ATKV-Applous, Suid-Afrika se oudste koorkompetisie, moes ook vindingryke maniere vind om voort te gaan.
Gewoonlik sal dié kompetisie gepaardgaan met bekoorlike streeksfeeste en ’n swierige finaal, maar weens die inperkingsregulasies waar daar ’n beperking is op hoeveel mense bymekaar mag kom, kon ATKV-Applous nie in sy huidige formaat voortgaan nie.
“In plaas van streeksfeeste regoor die land, besoek ons elke skool apart. Die koor word beoordeel en daar word terugvoer gegee,” sê Johan Esterhuizen, bestuurder: ATKV-Jeugprojekte.
“Die koorwêreld was baie teleurgestel toe daar aangekondig is dat die eerste ronde van ATKV-Applous 2021 uitgestel is.”
Volgens hom het die beoordelaars vanjaar tussen 13 September en 23 September elke skool wat deelgeneem het, besoek.
“Die skole het ook soms voor ’n beperkte gehoor opgetree en soms net voor die beoordelaars. Die skole het ook uit eie inisiatief besluit om die optredes vir die ouers te verfilm.”
Hy sê vanjaar was ’n uitdagende jaar vir die deelnemers.
“Vir die deelnemers was dit veral moeilik om nie te kon oefen nie en die beperkings het ook ’n invloed gehad. Omdat die meeste kore tussen 60 en 120 koorlede het, moes daar soms in die buitelug geoefen word.
“Al het die kore baie min oefentyd gehad, het hulle steeds die beoordelaars beïndruk.”
Hou ATKV-Applous se webblad dop vir meer oor hierdie toonaangewende projek.