ATKV-DigiProjekte: Skryf jou hart uit!

Dis weer tyd vir die ATKV se opwindende skryfkompetisie, ATKV-DigiSkryf, wat vir aspirantskrywers die geleentheid gee om hul storie in hul hartstaal te skryf. Vanjaar se temas, “Hartsdinge”, “Lag met ’n traan” en “My superheld” kan in sewe kategorieë as inspirasie dien, en inskrywings word deur ’n kundige paneel beoordeel.
Nie net is daar lekker prysgeld op die spel nie, maar elke kategoriewenner kry ook ’n ATKV-sertifikaat. Wie weet – miskien is hierdie die begin van ’n skryfreis sonder weerga.
Melanie Marais, die ATKV se projekorganiseerder: jeugprojekte, sê: “Dit maak nie saak waar jy is nie: besig met ’n selfie op die Eiffeltoring; op ’n bootjie op die Oranjerivier; of in die stof op ’n Vrystaatse plaas: As Afrikaans jou hartsnare roer en jou kreatiwiteit inspireer, gryp ’n stuk papier; jou slimfoon of tablet en begin skryf. Ons wil graag jou storie lees en ’n mens weet nooit wie se oog jou talente vang nie.”
ATKV-DigiSkryf is oop vir oud en jonk en gee jou die geleentheid om jou kreatiwiteit en skryftalent te slyp en deur kundiges beoordeel te word. Laer- en hoërskoolleerders, studente, volwassenes en senior burgers kan elkeen in hul eie kategorieë inskryf. Dis as volg ingedeel: Graad 4 en 5; graad 6 en 7; graad 8 en 9; graad 10 tot 12; studente; volwassenes (25 tot 59 jaar) en senior burgers (60 jaar en ouer). Elke kategorie se woordtelling verskil en wissel van 120-160 woorde tot 350-550 woorde.
Die beoordelaars sal 50 punte toeken vir kreatiwiteit en oorspronklikheid en hoe effektief die tema aangepak is en 50 punte vir taalgebruik, sinkonstruksie en die slot se trefkrag.
Melanie sê: “Deelnemers mag meer as een keer inskryf, elke keer met ’n ander skryfstuk. Dis belangrik dat net oorspronklike skryfstukke wat die deelnemers self geskryf het, ingeskryf word. Inskrywings moet in Afrikaans geskryf wees en geen SMS-taal word toegelaat nie.”
Sy voeg by: “Geen lasterlike of onwelvoeglike taalgebruik word toegelaat nie.”
Alle skryfwerk moet in Arial 12 punt met 1,5 lynspasie getik wees en in PDF-formaat ingehandig word.
Die woordtelling is as volg:
Graad 4 en 5: 120 tot 160 woorde;
Graad 6 en 7: 150 tot 200 woorde;
Graad 8 en 9: 250 tot 350 woorde;
Graad 10 tot 12: 300 tot 500 woorde;
Studente, volwassenes (25 tot 59 jaar) en senior burgers (60 jaar en ouer): 350 tot 550 woorde.
Indien jy nie aan die kompetisiereëls voldoen nie, sal jou inskrywing gediskwalifiseer word.
Elke deelnemer ontvang ’n deelnamesertifikaat met die simbool wat hy/sy behaal het. Elke kategoriewenner ontvang ’n ATKV-sertifikaat en lekker prysgeld.
Die inskrywingsgeld beloop R130 per skryfstuk en alle inskrywings sluit op 9 Mei 2025.
Indien die skryfwerk (20 MB of kleiner) nie saam met jou inskrywing opgelaai is nie, kan jy jou skryfwerk na melaniem@atkv.org.za stuur met Google Drive (jy benodig ’n Google-rekening); WeTransfer of OneDrive (jy benodig ’n Microsoft-rekening).
Wanneer jy die inskrywingsvorm onderteken, gee jy toestemming dat jou persoonlike inligting ingesamel mag word en dat die ATKV nie hoef te voldoen aan die verpligtinge soos in die Wet op die beskerming van Persoonlike Inligting (POPI-wet) uiteengesit is nie.
Deelnemers aan hierdie kompetisie en/of hulle ouers/ voogde vrywaar die ATKV teen enige eise of ongeopenbaarde aansprake van enige aard wat uit deelname aan hierdie kompetisie kan ontstaan.
Neem asseblief kennis dat geen inskrywingsgeld terugbetaalbaar is nie. Dit sal slegs terugbetaal word indien die ATKV die projek kanselleer.
Vir verdere inligting oor die projek, gaan kyk na die ATKV-DigiSkryf-deelnemersgids: https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digiskryf/ of klik hier vir die inskrywingsvorm.
Kontak ATKV-DigiSkryf se projekorganiseerder, Melanie Marais, met enige verdere navrae oor DigiSkryf by 011 919 9015 of stuur ’n e-pos na melaniem@atkv.org.za.