ATKV-DigiSkryf en -DigiGesegdes: Skryf nou in!
Het jy ’n slag met woorde? Broei daar ’n boeiende storie in jou kop wat jy graag met ander wil deel?
Dalk het jy ’n belangstelling in die taal en die kleurryke wyse waarop ons met idiome en spreekwoorde omgaan, en wil jy jou kennis toets.
Of jy daarvan hou om woorde op papier te sit of ’n kompeterende sy het – of albei – moet jy vir die ATKV se DigiProjekte inskryf.
“Dié kompetisies is oop vir oud en jonk en aangesien dit aanlyn aangebied word, kan mense van regoor die land en die wêreld deelneem,” sê Melanie Marais, projekorganiseerder.
ATKV-DigiSkryf bied vir jou die geleentheid om met jou kreatiewe en skryftalent te spog terwyl ATKV-DigiGesegdes deelnemers die kans gee om hul kennis van Afrikaans se beste sêgoed in ’n prettige speletjiesformaat ten toon te stel.
Melanie sê ATKV-DigiSkryf is oop vir enigeen wat daarvan hou om woorde op papier neer te pen en dié kompetisie bied ’n wonderlike geleentheid vir deelnemers om hul skryfwerk ten toon te stel.
“Elke kategoriewenner se skryfwerk word op die ATKV se platforms gepubliseer en daar is ook fantastiese boekpryse op die spel,” sê sy.
Die kompetisie is oop vir laer- en hoërskoolleerders, studente, volwassenes en senior burgers.
Vanjaar se temas is “Seisoene”, “Liewe dagboek” en “Die snaaksste van alles ...”.
“Die wonderlike ding is jy het geen perke nie. Jy kan oor enigiets skryf, mits dit te doen het met vanjaar se temas.”
ATKV-DigiGesegdes is ’n splinternuwe ATKV-DigiProjek.
“Die projekte groei sedert 2020 van krag tot krag en ons het besluit om dit nog verder uit te brei.”
Volgens Melanie is ATKV-DigiGesegdes die Noot vir Noot van gesegdes en spreekwoorde.
“Deelnemers gaan op ’n prettige wyse hul kennis van die taal, gesegdes en spreekwoorde kan toets.”
Hierdie nuwe projek is oop vir graad 4’s tot volwassenes.
Volgens Melanie sal deelnemers se kennis van Afrikaanse gesegdes, idiome, vergelykings en spreekwoorde op drie manier beoordeel word.
“In die eerste afdeling word daar vir die deelnemers gesegdes of vergelykings gegee en hulle moet bepaal of dit reg of verkeerd is. Tweedens moet deelnemers self gesegdes en vergelykings voltooi, en laastens moet deelnemers die betekenis van gesegdes en vergelykings gee.”
Inskrywings vir beide dié ATKV-DigiProjekte sluit op 27 Junie.
“Daar is iets vir almal en jy kan vanuit die gemak van jou eie huis deelneem. Jy kort net ’n rekenaar, selfoon of tablet. Skerp jou kennis van die taal op, of sit jou kreatiewe hoed op en kom neem deel.”
Klik hier vir die deelnemersgids en inskrywingsvorms van ATKV-DigiSkryf en vir ATKV-DigiGesegdes.
Belangstellendes wat meer inligting verlang, kan Melanie by 011 919 9015 of melaniem@atkv.org.za kontak.