ATKV-Kinderboektoekennings inspireer leeslus
Die ATKV-Kinderboektoekennings, ’n projek wat daarop gemik is om jong lesers se liefde vir boeke aan te wakker, was onlangs in die kollig by die Wes-Kaapse Biblioteekbestuurders se opleidingsessie in Saldanhabaai.
Jeanné Naudé, projekorganiseerder in die ATKV se taalafdeling, het die geleentheid gehad om biblioteekbestuurders meer oor hierdie unieke projek te vertel.
Die ATKV is deur die Wes-Kaapse regering genooi om deel te wees van die opleidingsessie wat spesifiek vir biblioteekbestuurders in die provinsie aangebied is. Volgens Jeanné was dit ’n waardevolle geleentheid om die projek aan ’n groep mense bekend te stel wat reeds ’n groot rol in leesbevordering speel.
“Biblioteke speel ’n belangrike rol om boeke vir kinders en jong lesers toeganklik te maak. Deur hande te vat met die ATKV kan biblioteke verseker jong lesers kry toegang tot nuwe en relevante boeke,” vertel Jeanné.
Deur projekte soos die ATKV-Kinderboektoekennings aan hierdie bestuurders bekend te stel, word nuwe moontlikhede geskep vir samewerking tussen biblioteke, skole en leesgroepe.
Die ATKV-Kinderboektoekennings is ’n jaarlikse projek waarin erkenning gegee word aan die gewildste Afrikaanse kinder- en jeugboeke wat in die vorige kalenderjaar verskyn het. Wat hierdie toekennings besonders maak, is dat die beoordelaars nie volwassenes of akademici is nie, maar kinders self.
Hierdie unieke benadering gee volgens Jeanné waardevolle insig vir skrywers, uitgewers en illustreerders oor watter stories werklik by kinders aanklank vind.
“Hierdie unieke benadering gee waardevolle insig vir skrywers, uitgewers en illustreerders oor watter stories werklik by kinders aanklank vind. Terselfdertyd word erkenning verleen aan skrywers, uitgewers en illustreerders vir hul toegewyde werk,” vertel Jeanné.
Benewens die bekroning van gewilde kinderboeke, het die projek ook ’n tweede belangrike doelwit.
“Die ATKV-Kinderboektoekennings is daarop gerig om kinders te laat lees en leesbevordering aan te moedig,” sê Jeanné.
Sy haal die digter Antjie Krog aan om die waarde van lees te beklemtoon: Kinders moet ‘leer lees’ om te ‘lees om te leer’.
Lees is volgens Jeanné veel meer as net ’n akademiese vaardigheid.
“Lees word beskou as die basis vir alle leer, kritiese denke en empatie, terwyl dit ook dien as ’n instrument vir persoonlike groei en nasiebou. Lees is meer as net ’n vaardigheid – dit wek avontuur, dryf kreatiwiteit en gee elke kind die geleentheid om verder as hul omstandighede te droom.”
Sy voeg by dat stories kinders na nuwe wêrelde neem en hul verbeelding stimuleer.
“Stories stel ons voor aan interessante mense en laat ons dinge ervaar wat ons dalk nooit in die werklike lewe sal sien nie. Dit laat ons op nuwe maniere dink en met ons eie kreatiewe idees vorendag kom,” vertel Jeanné.
In ’n wêreld waar digitale tegnologie al hoe meer van kinders se aandag opeis, glo Jeanné dat lees ’n belangrike rol speel om kreatiwiteit en empatie te ontwikkel.
“Ons leef in ’n digitale era wat hoofsaaklik die linkerbrein stimuleer, wat hand-oog-koördinasie en visuele geheue verbeter. As die regterbrein egter nie genoeg gestimuleer word nie, kan vaardighede soos kreatiwiteit, empatie, luister en lees daaronder ly.”
Jeanné beklemtoon dat biblioteke en skole ’n noodsaaklike rol speel om kinders aan boeke bloot te stel, veral in ’n tyd waar stories nie altyd meer by die huis vertel of voorgelees word nie.
“Ongelukkig hoor kinders nie meer noodwendig stories by die huis nie en boeke word nie meer vir hulle voorgelees nie. Kinders het ook nie altyd toegang tot boeke nie, en daarom word dit die verantwoordelikheid van biblioteke en skole om kinders bloot te stel aan boeke en om lees te bevorder,” sê Jeanné.
“Die belangrikheid van lees kan nie genoeg benadruk word nie en elke moontlike kanaal moet gebruik word om boeke toeganklik vir kinders en jong lesers te maak en om leesbevordering aan te moedig.”
Met projekte soos die ATKV-Kinderboektoekennings word daar nie net erkenning gegee aan uitstaande kinderboeke nie, maar word daar ook ’n belangrike bydrae gelewer tot die ontwikkeling van jong lesers – en die stories wat hul verbeelding aan die brand steek.
Klik gerus hier vir meer inligting oor die ATKV-Kinderboektoekennings.