ATKV-Mediaveertjies bekroon weer ondersoekende joernalistiek
In ’n era waarin die waarheid dikwels verdraai word en sosiale media vir baie mense hul enigste bron van nuus geword het, wil die ATKV ondersoekende joernalistiek in Afrikaans op ’n tasbare manier bekroon. Prysgeld van altesaam R30 000 is op die spel.
Joernaliste in alle genres (drukmedia, digitale media, radio en televisie) wat nie skroom om moeilike vrae te vra, diegene in magsposisies tot verantwoording te roep, of die stories te vertel waarvan ander wegskram nie, word genooi om in te skryf in drie kategorieë: LEES, LUISTER en KYK.
Afrikaanse artikels, programme of insetsels wat tussen 1 Maart 2022 en 28 Februarie 2023 verskyn het of uitgesaai is, mag ingeskryf word.
Artikels, programme, insetsels en reekse moet feitelik korrek wees, prikkelend aangebied word, deurdring tot die kern van die saak en insiggewende inligting op ’n verstaanbare manier oordra.
Die kompetisie is oop vir alle joernaliste wat in Afrikaans werk. Die algehele wenner sal R15 000 ontvang, die naaswenner ontvang R10 000, en die persoon wie se werk die uiteindelike derde plek beklee, kry R5 000.
Inskrywings sluit op 21 September 2023 om 17:00 en die wenners word op 24 November 2023 aanlyn aangekondig.
Volledige inligting, reglemente en inskrywingsvorms is hier beskikbaar.
Navrae: Ilse Salzwedel (projekorganiseerder)
E-pos: IlseS@atkv.org.za (Alle amptelike navrae oor die kompetisie moet aan hierdie e-posadres gestuur word.)