Beleef die ATKV-Applous-finaal aanlyn
Ná ’n maand van beoordeling by 19 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië, bereik die 49ste ATKV-Applous-skoolkoorkompetisie sy hoogtepunt wanneer die finale gala-aande van 29 Julie tot 1 Augustus 2026 in die Kaapstadse Stadsaal aangebied word.
Vir bykans vyf dekades bied ATKV-Applous aan jong sangers die geleentheid om hul talent op een van Suid-Afrika se mees gesogte koorverhoë ten toon te stel. Die kompetisie vier nie net musikale uitnemendheid nie, maar dra ook by tot die ontwikkeling van dissipline, spanwerk, selfvertroue en lewenslange vriendskappe.
Vanjaar het 314 skoolkore, wat bykans 23 000 laer- en hoërskoolleerders verteenwoordig, aan die kompetisie deelgeneem. Uiteindelik is 38 uitstaande kore na die finaal genooi.
Die gewilde aanlyn stroming van al die finale konserte word vanjaar weer aangebied. Dit bied aan familie, vriende en ondersteuners wat nie die geleentheid het om die konserte in Kaapstad by te woon nie, die kans om steeds deel van die opwinding te wees. Of geliefdes nou in die buiteland woon of eenvoudig te ver van Kaapstad af is om te reis – hulle kan steeds elke optrede regstreeks beleef.
Kaartjies vir die aanlyn stroming is beskikbaar teen slegs R100 per konsert en kan hier gekoop word: https://concertdirectory.co.za/atkv
Kore en hul ondersteuners kan ook ’n professionele video- en/of klankopname van hul optrede bestel – ’n kosbare herinnering aan hierdie besonderse mylpaal. Die opnames is ideaal om met familie, vriende en ondersteuners te deel en kan ook vir toekomstige gebruik deur die koor aangewend word vir bemarking, argiewe, sosiale media en toekomstige geleenthede.
Bestel gerus hier: https://forms.gle/z6oSm6KwTi5q5WRc6
Bestel vroegtydig en neem kennis van die blitsbestelling-opsies wat dit moontlik maak om die opname vinniger te ontvang.
Volgens Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, is die ATKV opreg dankbaar vir die ongelooflike ondersteuning wat ATKV-Applous jaar ná jaar van skole, koorleiers, begeleiers, ouers en ondersteuners ontvang.
Sy beklemtoon: “Dat soveel skole steeds in koorsang belê, getuig van die onskatbare waarde wat hierdie kunsvorm vir jongmense inhou. Koorsang ontwikkel meer as net musikale vaardighede – dit leer leerders dissipline, spanwerk, deursettingsvermoë en verantwoordelikheid. Ons sien van harte uit daarna om weer Suid-Afrika en Namibië se uitsonderlike jong koortalent in Kaapstad te verwelkom en saam met hulle besonderse koorsang te vier.”
Die ATKV-Applous-span nooi alle musiekliefhebbers uit om deel te wees van hierdie viering van koormusiek – hetsy in die gehoor van die Kaapstadse Stadsaal of deur die regstreekse stroomdiens vanuit enige plek in Suid-Afrika of die wêreld.
Kontak gerus vir Corneli Quinn per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.
Vir meer inligting oor ATKV-Applous, besoek gerus die ATKV-Applous-webblad by https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/applous/.