Bloemfonteinse Engelse roos gekies vir die kollig
Die wenner van ATKV-DigiToneel 2022 is op 1 November bekendgemaak tydens die laaste episode van Gekies vir die Kollig, die ATKV se realiteitsreeks op VIA (DStv-kanaal 147) ná ’n opwindende reis van agt maande op soek na die jongste talent vir die kamera.
Lucy Groenewald (17) van die Eunice High School for Girls in Bloemfontein het die beoordelaars in die finale ronde beïndruk met haar monoloog, Wakker word, geskryf deur Ilne Fourie.
Alhoewel Afrikaans Lucy se tweede taal is, het sy op die stel van Gekies vir die Kollig gesê dat dit vir haar vreeslik lekker is om in Afrikaans te skep en te speel.
“Lucy is een van vanjaar se finaliste wat werklik soos ’n spons elke stukkie raad van die mentors opgesuig, oorweeg en haar eie gemaak het. Mens kon al die notas van die rondes en haar ervaring op stel met buitementor, Solomon Cupido, in haar laaste opname sien blom!” sê ATKV-DigiToneelprojekorganiseerder, JJ van Niekerk, wat ook vanjaar in die regisseurstoel van Gekies vir die Kollig gesit het.
Lucy het die bekroonde aktrise en mentorbeoordelaar, Lea Vivier, in trane gehad nadat Lea saam met die res van die beoordelaarspaneel na die finale opnames gekyk het. Volgens Lea het Lucy met haar laaste opname daarin geslaag om die kyker ’n blik te gee op wat die karakter voel en beleef – ’n veeleisende vaardigheid wat beslis nie in elke akteur se broek sit nie.
Die naaswenner van ATKV-DigiToneel is Carla Hugo van die Hoërskool Zwartkop in Centurion met haar monoloog, Oogdruppels is nie gemaak om te drink nie, geskryf deur Marista van Eeden.
Die derdeplekwenner is Lisa Kukard van die Hoërskool Durbanville, wat ’n sterk indruk op die beoordelaars gemaak het met haar selfgeskrewe monoloog, Legio.
Altwee hierdie spelers het ook astronomiese spronge gemaak sedert hul eerste opnames, wat op die verhoog verfilm is. Carla het haar ligging aangepas deur te verfilm in ’n apteek en Lisa het haar ruimte verskuif na die see, wat beide hul monoloë nuwe diepte en atmosfeer gegee het.
Almal betrokke by hierdie projek is dit eens dat ATKV-DigiToneel ’n unieke platform is wat deelnemers die regte boustene gee om diep te delf en die kuns van toneelspel voor die kamera te vervolmaak. Die proses is tydsaam en die beloning is groot, want elke deelnemer belê in hulself deur die platform as wegspringblok te gebruik. Elkeen wat vanjaar hierdie geleentheid aangegryp het, het as’t ware in die toekoms belê en ’n verskil teweeggebring.
Die wenner van ATKV-DigiToneel ontvang R5000 kontant en die ATKV-DigiToneeltrofee. Die naaswenner stap weg met R3000 kontant en die derdeplekwenner ontvang R2000.
Die toptekste word weereens aanlyn gepubliseer.
Die ATKV is geweldig trots op ons derde monoloogbundel, wat in 2022 onder ’n nuwe temawolk gepubliseer word.
Jy kan hierdie bundel binnekort gratis op die ATKV se webwerf aflaai by https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digitoneel/.
Die deelnemersgids vir 2023 word teen 25 November bekendgestel en beloof ’n vars kinkel vir die kreatiewe jong talent wat volgende jaar wil deelneem en hul eie debuut op die kassie wil maak.
As jy enige uitsendings van die reeks misgeloop het, kan jy nou die boksstel van Gekies vir die Kollig op DStv Catch Up kyk.