Skip to main content

Reeds as skolier was Barnie Mans begeesterd oor die idee van tienertoneel. Sy ma was die afrigter van die Hoërskool Martin Oosthuizen op Kakamas se tienertoneelgroep en ná die voltooiing van sy honneursgraad aan die Universiteit Stellenbosch, het hy teruggekeer na Kakamas om daar skool te hou. Mettertyd het hy self aan die stuur van die tienertoneel by die skool gestaan.

“Die lekkerte van werk met die jongklomp is om die ongelooflike groei by elkeen te sien. Soms sit jy met ’n outjie wat skaars kan praat en uiteindelik ontwikkel hy tot ’n wonderlike akteur wat ’n rol in ’n ander produksie wen. Dis heerlik om te sien hoe kinders op vele vlakke ontwikkel deur middel van tienertoneel. Kinders leer om hulself te handhaaf, te ontdek en te laat geld tussen ander. Natuurlik verbreed dit die kinders se wêreld ook geweldig baie, want hulle kry die geleentheid om teater te sien en met ander sienings en denkwyses in aanraking te kom wat hulle nie sommer in die alledaagse lewe sou gebeur nie. By toneelfeeste soos die ATKV se Tienertoneel kry hulle ook blootstelling aan mense uit allerlei kultuurgroepe en gemeenskappe,” sê Barnie.

In Februarie het Barnie vanjaar se toneelseisoen afgeskop met die aanbieding van ruimtespesifieke teater, wat veral aan sy jong spelers wat nog nie voorheen op die verhoog was nie, die geleentheid gee om voor mense op te tree. Die idee van ruimtespesifieke teater is dat geen twee vertonings dieselfde kan wees nie en die ruimte of venue dra by tot die storie. So ook dinge soos die weer, temperatuur en die voël- en inseklewe. Met ’n kleiner gehoor is dit ook heelwat makliker om aan al die Covid-regulasies te voldoen.

Barnie vertel dit was so ’n groot sukses dat hy reeds ’n waglys het van belangstellendes wat dit dan volgende kwartaal sal sien. Hy is besonder dankbaar dat Kakamas se gemeenskap ’n baie gekultiveerde gemeenskap is wat graag musiek- en teateraanbiedings ondersteun. Hy lag en sê hy noem sy produksies nie toneelproduksies nie, maar praat altyd van “konsert hou”. Die sale is altyd vol vir sy konserte, en met die ruimtespesifieke teater in Februarie het hy sewe uitverkoopte aande gehad.

“Die grootste uitdaging om by ’n skool soos Martin Oosthuizen ’n tienertoneelgeselskap op die been te bring, is die grootte van ons skool. Ons het net 220 kinders in die skool. Van ons toneelgroep is daar seuns wat eerstespan rugby speel, meisies wat eerstespan hokkie of netbal speel. Ons kan dus nie in die week oefen nie, maar oefen Sondae en in die vakansies. Gelukkig is die nalatenskap en sukses van die toneel by die skool so groot dat elkeen wat deel wil word van die toneelgeselskap, weet dit is iets lekkers en ons is besig met iets regtig besonders. Die kinders wat reeds deel is van die groep help ook baie, want hul opgewondenheid en die stories van wat hulle al alles beleef het, dra daartoe by dat ander kinders bereid is om hulself hieraan toe te wy.”

Die sukses wat Barnie en hierdie klein skool se leerders deur die jare gehad het, is buitengewoon. Hulle het al ’n hele paar keer in die ATKV-Tienertoneelkompetisie se eindronde gespeel. Die skool het ook drie keer al die beste tienerakteur in hierdie kompetisie gehad. Vyf van sy akteurs het al rolle gewen in ander produksies uit ander toneelfeeste wat aangebied word.

Barnie verkies om inhoudsgewys weg te bly van die gewone tienertoneeltekste wat beskikbaar is. ’n Nuwe idee sal sommer in die oggend in sy kop kom nes skrop. Hy woon baie teater by, kyk ook aanlyn na teater en op daardie manier ontwikkel sy nuwe idees. Dat die dorp hom nog nie toegesluit het oor wat hy uitdink en laat opvoer nie, is ’n wonderwerk, lag hy.

Vir Barnie bly dit jaar ná jaar ’n besondere geleentheid om ’n nuwe teaterproduksie op die planke te bring. Afgesien van ATKV-Tienertoneel is daar heelwat ander toneelfeeste en vir alles moet daar ver rondgery word. Dit is deel van die lekkerte. Hy is veral dankbaar oor die geleentheid om aan die ATKV se kompetisie deel te neem, sê hy.

“Die geleentheid wat die ATKV-Tienertoneelkompetisie spesifiek vir ’n jong mens bring, is die kans om in ’n regte teater op te tree,” sê Barnie. “Die kinders kry dus nie net speelgeleentheid nie, maar ook die ervaring en ondervinding van ’n regte, egte teater. Dit is ’n absolute pluspunt. Só word elke lid van die toneelgeselskap se wêreld verruim.”

Klik hier vir meer inligting oor ATKV-Tienertoneel of om in te skryf.