DigiProjekte: Kreatiwiteit ken geen ouderdom nie
Die ATKV bly toegewyd aan die volhoubare ontwikkeling van kuns en kultuur – wat nou verweef is met innovasie en kreatiwiteit – en glo dat dit noodsaaklike boustene is om in jouself te belê.
ATKV-DigiProjekte bied die ideale platform om kreatiewe denke aan te moedig. Hierdie projekte is ’n dinamiese reeks digitale kompetisies wat Afrikaanssprekendes regoor die wêreld die kans gee om hul kreatiwiteit, taalvaardigheid en kultuurtrots te vier.
Digiprojekte bring die wêreld van skryf, spel, idiome, poësie en kuns in ’n toeganklike, moderne formaat saam waar deelnemers – ongeag waar hulle woon of in watter fase van die lewe hulle hulself bevind – kan inskryf en meeding. Of jy in Upington se snikhete somer sit, die glans van die Eiffeltoring bewonder, die son oor die Karoo sien sak, of die geure van pasta in ’n Italiaanse kombuis geniet – jy kan inskryf!
Senior burgers word veral aangemoedig om aan hierdie aanlyn kompetisies deel te neem, want daar lê ’n skatkis van talent in hierdie lewensfase! Met ATKV-DigiProjekte word ’n ruimte geskep waar mense wat reeds ’n halwe eeu se wysheid en lewenslesse dra, kan meeding, leer en hul passie uitleef.
ATKV-DigiSkryf bied ’n platform vir woordkunstenaars om hul stories te deel. Hier kry senior burgers die kans om hul penne te laat dans en hul verbeelding vlerke te gee. Dié kompetisie is ’n bewys dat skryf nie net ’n aktiwiteit vir die jonges is nie, maar ’n lewenslange geskenk wat met die jare net dieper en ryker word. Die wenners van hierdie kompetisie se werk word nie net op ATKV-platforms ten toon gestel nie, maar daar is ook fantastiese boekpryse op die spel.
ATKV-DigiSpel – die ideale kompetisie vir diegene wat in ’n koue sweet uitslaan wanneer hulle ’n spelfout sien – slyp jou taalvaardigheid en maak spel pret. Met hierdie kompetisie word deelnemers aangespoor om baie meer aandag aan die gebruik van Afrikaans te gee en uitgedaag om hul spelling op te skerp. Boonop geniet jy jouself gate uit – alles in die gemak van jou eie ruimte!
ATKV-Digi-Idiome toets jou kennis van Afrikaanse sêgoed en spreekwoorde. Met hierdie kompetisie floreer senior burgers, want wie anders as iemand wat al dekades lank Afrikaans praat en leef, ken die spreekwoorde en sêgoed só goed? Dié kompetisie wys dat taal nie net woorde is nie, maar ook ’n skat van gesegdes wat generasies verbind. Jy het, so waar as padda manel dra, net toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon en ’n internetverbinding nodig.
Met ATKV-DigiGedigte kry digters die geleentheid om hul verse vlerke te gee. Mense van alle ouderdomme kry die kans om hul verse te deel – veral senior burgers wat met hul lewenswysheid ’n indruk maak. DigiGedigte wys dat poësie ’n universele taal is wat alle ouderdomsgrense oorskry. Of jy hou van paarrym, omarmde rym of eerder met die vrye vers woeker, ATKV-DigiGedigte wag op jou digterlike vernuf!
Navorsing het herhaaldelik bewys dat kreatiwiteit positiwiteit ’n hupstoot gee. Iets waarvan ons almal – oud en jonk – ’n groot dosis nodig het! ATKV-DigiKuns skep ’n ruimte waar visuele kunstenaars hul werk digitaal kan uitstal. Hier kry senior burgers die kans om in verskeie kategorieë hul kreatiwiteit in kleure en vorms uit te druk, onder andere illustrasie (potlood-, houtskool- of pensketse), skilder (akrielverf, waterverf of olieverf), collage, beeldhouwerk, fotografie, oorspronklike digitale illustrasie of gemengde media. DigiKuns is sprekend daarvan dat kuns nie net ’n stokperdjie is nie, maar ’n manier om die wêreld te verstaan en te verfraai.
ATKV-DigiProjekte is nie net kompetisies nie, maar ’n viering van Afrikaanse kreatiwiteit en gemeenskap en ’n digitale tuiste waar talent, verbeelding en kultuur hande vat en nuwe hoogtes bereik oor alle ouderdomsgrense heen.
Senior burgers vind hier ’n ruimte waar hulle nie afgesonder voel nie, maar deel van ’n groter beweging is. Hier ontdek hulle dat hul stories, gedigte en kuns waardevol is – nie net vir hulself nie, maar vir die hele Afrikaanse gemeenskap.
Deur aan ATKV-DigiProjekte deel te neem, belê senior burgers in hulself en kan met trots sê: “Ons is hier, ons is kreatief en ons het nog baie om te gee!”
Ontdek ’n kleurvolle kultuurspektrum onder die ATKV se DigiProjekte-sambreel. Daar is iets vir almal – die gryses, die kreatiewes, die taalboffins en selfs dié wat hulle nou in die buiteland bevind! Klik hier vir meer inligting oor ATKV-DigiProjekte.