Finaliste van die ATKV-Crescendo aangekondig

ATKV-Crescendo het die 12 finaliste aangekondig wat deurgaan na die laaste ronde van die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram.
In samewerking met Expression Session is 22 deelnemers vroeër gekies om die mentorskapprogram, wat van 23 tot 27 Maart in die Paarl gehou is, by te woon. Die week het uit uurlange sessies met kunstenaars en kenners soos Anna Davel, Melissa van der Spuy, Danie du Toit en Deon Meiring bestaan. Tydens hierdie sessies moes deelnemers soms binne ’n uur ’n eie liedjie komponeer en uitvoer ter voorbereiding van die finale uitdaging, wat gaan wees om ’n liedjie tydens die afsluitkonsert te sing.
Die 12 finaliste wat aangewys is om die finale werkswinkel in Stellenbosch tydens die Oktober-skoolvakansie by te woon, is:
- Chresville Adendorf, Worcester (24)
- Leigh-Muir Booysen, Worcester (23)
- Annika Boshoff, Kaapstad (31)
- Marsha Bothma, Bellville (27)
- Suné Damons, Worcester (24)
- Athina Sue Chanté Jansen, Brackenfell (28)
- Alzanley Noome, Centurion (23)
- Leandi Schmidt, Olifantsfontein (28)
- MJ Scholz, Middelburg, Mpumalanga (24)
- Renée Van Niekerk, Somerset-Wes (22)
- Selby Williams, Worcester (29)
- Aidam-John Zekoe, Worcester (24)
Die mentorskapprogram het sedert 2014 ten doel om talentvolle liedjieskrywers toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om die mededingende Afrikaanse musiekindustrie aan te durf. Om in aanmerking te kom vir die program moes deelnemers ’n oorspronklike liedjie inskryf. Daar is landwyd oudisies gehou en digitale inskrywings is ook aanvaar. Musikante is aangemoedig om in hul eie dialekte te skryf en sing om ’n nuwe vloei van talent, liedjies, stemme en klanke na die bedryf te verseker.
“Die mentorskapprogram plaas groot klem op menslike ontwikkeling,” verduidelik kursusleier Robin-Dean Fourie. “Die opleiding is gebaseer op die kernwaardes van karakter en integriteit. Ons wil ook graag kennis en ervaring oor entrepreneurskap en selfbestuur aan die deelnemers oordra sodat hulle ook finansieel selfonderhoudend sal wees.”
Die mentors en industriekenners gaan na afloop van die mentorskapprogram steeds saam met die deelnemers werk. “Dit gaan oor soveel meer as net die ontginning van nuwe talent. Die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram bied aan finaliste die platform om hul eie musiek uit te voer terwyl hulle opgang in ’n hoogs kompeterende bedryf maak,” sê Robin-Dean.
Klik hier vir meer inligting oor ATKV-Crescendo.