Jong Stellenbosser is gekies vir die kollig!
Die wenner van ATKV-DigiToneel 2023 is op 24 Oktober bekendgemaak tydens die laaste episode van Gekies vir die Kollig, die ATKV se realiteitsreeks op VIA (DStv-kanaal 147) ná ’n sensoriese reis van agt maande op soek na die jongste talent vir die kamera.
Jean Retief (17) van die Hoërskool Stellenbosch het die beoordelaars in die finale ronde beïndruk met sy monoloog, Opbreek, geskryf deur André Gerber.
Jean het op die stel van Gekies vir die Kollig gesê dat hy drama gebruik om te eksperimenteer met verskillende identiteite van homself. Hy het ook deur hierdie platform tot die besef gekom dat dit hom nie meer bang maak om eerlik voor mense te praat nie.
“Jean Retief was beslis vanjaar die buiteperd wat in sy laaste ronde die uitklophou geslaan het en met fyn veranderinge die beoordelaars se hart gewen het,” sê ATKV-DigiToneelprojekorganiseerder, JJ van Niekerk, wat weer vanjaar in die regisseurstoel van Gekies vir die Kollig gesit het.
Jean het die aktrise en beoordelaar, Lindsey Cele, op ’n kreatiewe reis van storievertelling geneem. Medebeoordelaar Lea Vivier was dit ook eens dat Jean Retief met sy vars aanslag verskillende aspekte van hom as akteur ten toon gestel het wat organies en eg oorgekom het – ’n besonderse vaardigheid waaroor ’n akteur moet beskik.
Die naaswenner van ATKV-DigiToneel is Inge Marx van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria met haar monoloog, K.A.R.A, geskryf deur Imarie Oberholzer.
Die derdeplekwenner is Danelle Jacobs van die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas, wat ’n sterk indruk op die beoordelaars gemaak het met haar selfgeskrewe monoloog, Skisofrenie.
Altwee hierdie spelers het ook astronomiese spronge gemaak en het die grense van tegniese aspekte in die filmmaakproses afgebreek. Danelle het dit reggekry om haar alter ego in ’n spieël anders as die karakter te laat reageer en te praat en Inge het ons met geloofwaardigheid laat deernis hê met ’n KI-karakter wat deur die skerm wou breek.
Almal betrokke by hierdie projek is dit eens dat ATKV-DigiToneel ’n unieke platform is wat deelnemers die regte boustene gee om diep te delf en die kuns van toneelspel voor die kamera te vervolmaak. Die proses is tydsaam en die beloning is groot, want elke deelnemer belê in hulself deur die platform as wegspringblok te gebruik. Elkeen wat vanjaar hierdie geleentheid aangegryp het, het as’t ware in die toekoms belê en ’n verskil teweeggebring.
Die wenner van ATKV-DigiToneel ontvang R5 000 kontant en die ATKV-DigiToneeltrofee. Die naaswenner stap weg met R3 000 kontant en die derdeplekwenner ontvang R2 000.
Die toptekste word weereens aanlyn gepubliseer.
Die ATKV is geweldig trots op ons vierde monoloogbundel, wat in 2023 onder ’n nuwe temawolk gepubliseer word.
Jy kan hierdie bundel gratis op die ATKV se webwerf aflaai by https://atkv.org.za/neem-deel/digiprojekte/digitoneel/.
Die deelnemersgids vir 2024 word teen einde November bekendgestel en beloof weer ’n vars kinkel vir die kreatiewe jong talent wat volgende jaar wil deelneem en hul eie debuut op die kassie wil maak.
As jy enige uitsendings van die reeks misgeloop het, kan jy nou die boksstel van Gekies vir die Kollig op DStv Catch Up kyk.