Marlene le Roux: Soek daardie silwer randjie

Marlene le Roux, voorsitter van die ATKV-MSW-direksie, glo dat die ATKV se werksaamhede ’n bron van vreugde in 2021 kan wees. Hier is haar boodskap aan ATKV-lede en -personeel.
“Hartseer word aan ons geleen, nie gegee nie. ’n Ding wat geleen word, word weer teruggegee. Iets wat gegee is, bly joune. Vreugde word aan ons gegee. Hartseer word net geleen.” – Amy Carmichael
2020 is ’n jaar wat ons op vele maniere uitgedaag het. Die wêreld is letterlik tot stilstand gedwing.
Baie trane is gestort. Nie net oor geliefdes wat ons aan die dood moes afstaan nie, maar dalk oor ’n verlies aan inkomste, ’n verlies aan jou vryheid en selfs ’n verlies aan ’n lewe wat was.
In 2021 moes ons toekyk hoe die Covid-19-pandemie ’n tweede kruin bereik en is gekonfronteer met nuusberigte wat kreun onder stygende statistieke en ander se seer en swaarkry.
Dit is maklik om in hierdie tyd mismoedig te raak, om hoop te verloor en te wonder oor die sin van die lewe.
Daar is ’n Afrikaanse gesegde wat lui: Elke donker wolk het ’n silwer randjie.
Vanjaar wend ek ’n doelbewuste poging aan om nie die donker wolk nie, maar daardie silwer randjie te soek. Ek wil jou uitnooi om saam met my dié “skattejag” aan te pak.
Die ATKV was nog altyd ’n organisasie wat vir my sinoniem was met hoop. Of dit nou is deur ATKV-taklede wat ongeag hul eie uitdagings uitreik na ander of deur projekte wat bemagtig en inspireer.
Elke ATKV-tak se werksaamhede, opwindende en kreatiewe projekte, kuiers by ATKV-oorde, die Woekerfonds en Taalgenoot is soos Amy Carmichael sê ’n bron van vreugde. Kom ons kyk met nuwe oë na hierdie en ander gee-goed.
Dis moeilik om nie swaar te dra aan die leengoed nie, maar ek glo dat ’n mens selfs in die moeilike tye vreugde en genade kan vind.
Mag 2021 vir jou ’n jaar van goedheid en guns wees, propvol gee-goed, minder leengoed en baie silwer randjies.