Skud op met jou ATKV-DigiPraat-inskrywing!
Die uurglas loop nou vinnig leeg om in te skryf vir ATKV-DigiPraat, ’n kompetisie wat jou die geleentheid gee om in Afrikaans te wys hoe glad jy met die mond is. Of jy nou wil inlig, vermaak, motiveer of redeneer, ATKV-DigiPraat bied ’n gulde geleentheid om dit te doen. Boonop hoef jy nêrens heen te ry om deel te neem nie – jy kan dit vanuit die gemak van jou eie sitkamer (of enige ander plek wat jy verkies) doen! Daar is ook geen rede om bewerig te raak oor ’n streng beoordelaar wat vir jou sit en kyk en kort-kort iets neergriffel op ’n vorm nie, want inskrywings geskied digitaal.
Melanie Marais, projekorganiseerder van jeugprojekte by die ATKV, sê ATKV-DigiPraat het sy oorsprong tydens die Covid-pandemie in 2020 gehad. Dit beteken dat ATKV-DigiPraat nou vir die vierde keer aangebied word.
“Die pandemie het so lank aangehou en jy kon net soveel by die huis doen. Ons het ATKV-DigiPraat geskep om die kinders uit te daag en dit het gou ook die ouers uitgedaag,” sê Melanie.
Sy noem dat ATKV-DigiPraat verskeie voordele vir leerders inhou, aangesien die kompetisie net digitaal aangebied word. ATKV-DigiPraat verbeter jou vaardigheid in die gebruik van die internet, podsendings, videokonferensies, video's en spraakherkenningsagteware. Nóg voordele van die kompetisie is dat dit jou navorsingsvaardighede verbeter, selfvertroue bou, kritiese denkvaardighede versterk, deduktiewe redenasie oefen, mondelinge kommunikasievaardighede versterk en jou netwerk uitbrei.
ATKV-DigiPraat bied die geleentheid om te kies uit verskillende soorte toesprake: om in te lig, te motiveer, vermaak of te oorreed. Boonop kan jy enige onderwerp onder die son kies. Geen strafpunte word gegee nie en daar is slegs een aanlyn ronde. ’n Paneel kundige beoordelaars evalueer elke deelnemer se toespraak aan die hand van hul video.
Watter tipe toespraak moet ek kies?
- Inligtingstoespraak: Dit is ’n toespraak met feite om die gehoor se kennis te verbreed.
- Motiveringstoespraak: Dit is ’n passievolle toespraak wat die gehoor aanmoedig om doelwitte na te streef en om saam te stem met jou idees. Dié tipe toespraak gee riglyne aan die gehoor wat gevolg kan word om doelwitte te bereik.
- Oorredingstoespraak: Hierdie tipe toespraak is daarop gemik om mense se idees, ideale, lewensbeskouings, geloof, persepsies en dies meer te verander, te beïnvloed, of hulle weer daaroor te laat dink.
- Vermaaklikheidstoespraak: Hierdeur skep jy ’n aangename en ontspanne atmosfeer vir jou gehoor deur hulle te vermaak en te laat lag. Enigiets wat geskik is vir so ’n geleentheid kan gebruik word. Dit is egter ’n baie moeilike tipe toespraak om te lewer.
Skud op! Alle ATKV-DigiPraat-inskrywings sluit op 8 September 2023 – dit beteken die sperdatum vir die oplaai van jou toespraak in videoformaat is ook 8 September. Die inskrywingsfooi vir ATKV-DigiPraat beloop R150 per toespraak. As jy voor of op 1 September inskryf, betaal jy die verminderde bedrag van R120 per toespraak.
Vir meer inligting, soos riglyne vir beoordeling, hoe om in te skryf en jou video op te laai, en die toekennings wat gemaak word, kan jy gerus hier gaan loer.