Skip to main content

Dit is weer daardie tyd van die jaar – die ATKV vier skrywers, digters en dramaturge se uitsonderlike pennevrugte, toewyding en kreatiwiteit. Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord.

Boekwurms wêreldwyd sal jou vertel dat min dinge ’n goeie liefdesverhaal klop, en ook in Afrikaans staan liefdesromans hul plek op boekrakke vol.

Die kategorie vir die Prys vir Liefdesroman se beoordelaars was Francois Bekker, Malene Breytenbach en Ilse Salzwedel. Die wenner in hierdie kategorie is

Hulle noem haar Carminda – E. Kotze (Kwela Boeke).

Die beoordelaars sê die volgende: “Die trefkrag van Hulle noem haar Carminda lê veral daarin opgesluit dat dit so onopgesmuk en gestroop van resepmatigheid is. Kotze skryf oor die twyfel en toewyding, die kwaadword-en-weer-opmaak, die aanhou en uithou wat ware liefde vereis. Dit is ook ’n roman met ’n besondere woordgevoeligheid wat die leefwêreld van die vissersgemeenskap treffend skets. Die Weskus dien meesterlik as skilderdoek om ’n goeie storie nog beter uit te beeld. ’n Verhaal met sy hart op die regte plek. Mooi, aangrypend en onvergeetlik.”

Die Prys vir Romanses word vanjaar aan Belle, met die hart vol blomme – René van Zyl (Romanza) toegeken.

Volgens die beoordelaars Carol-Ann Alexander, Amanda Claasens en Kobie van Aswegen is die taalvaardigheid en gemaklike skryftrant van die skrywer deurgaans uitstaande. Die aanvangstoneel van die verhaal is besonder sterk en die leser kry dadelik insig in die gemoedstoestand van die heldin asook die rede vir haar paniek.

Die kalmte waarmee die held haar hanteer is ’n puik teenvoeter en tegelyk ’n aanduiding van sý karakter. Die verrassende einde van die eerste hoofstuk is ’n motivering om gretig verder te lees – ook die eerste van talle onverwagte wendings wat die geslaagde storielyn oplewer.

Die waarde van poësie, dramatekste en woordeboeke lê in hul vermoë om die menslike ervaring te verryk, kreatiewe uitdrukking te bevorder en taalvaardighede te ontwikkel.

In die kategorie Prys vir Poësie was die beoordelaars Diana Ferrus, Melt Myburgh en Christo van der Westhuizen. Die wenner in hierdie kategorie is Nou in infrarooi –Tom Dreyer (Kwela Boeke).

Tom Dreyer se Nou in infrarooi word beskryf as vernuwend, avant-garde en eksperimenteel en maak van hom ’n waardige wenner. Wat die verse anders maak, is hoe die kunsgrepe soos metafoor en rym ingespan word. Wat opval is Dreyer se vermoë om ’n onthoubare oomblik as sulks in te sien, dit wil sê die ongewone in gewone dinge, mense en gebeurtenisse. Hiervoor het hy ’n infrarooi oog, en dis stellig wat sy werk onderskei. Nou in infrarooi boei met uitsonderlike digterlike vernuf.

Drama gee lewe aan die letterkunde, en vanjaar se dramatekste is beoordeel deur Saartjie Botha, Marina Griebenow en Wim Vorster. Die wenner van die Prys vir Dramateks is vanjaar Philip Rademeyer vir Goed wat wag om te gebeur.

Hierdie teks is tekenend van Rademeyer se vernuf as woordsmid en teater-maker, sy besondere intellek en sy unieke omgang met die wêreld en sy mense. As ’n dramaturg skroom hy nie om taai onderwerpe aan te pak nie, en dít in keurige, welluidende Afrikaans. Rademeyer ondersoek in Goed wat wag om te gebeur die hedendaagse eksistensiële krisisse van sy karakters aan die hand van trauma uit die verlede. Hy neem dit egter ’n stap verder en vra die vraag waaroor filosowe al eeue lank wonder, naamlik hoeveel van jou swak of slegte karaktereienskappe oorerflik is (goed wat wag om te gebeur) en hoeveel daarvan kan vermy of gekorrigeer word. Die impak van die teks is onmiskenbaar en diep nadenke onvermydelik.

Die ATKV-Woordwystoekenning word toegeken aan ’n verdienstelike woordeboek of taalgids waarin Afrikaans verteenwoordig word.

Die beoordelaarspaneel vir vanjaar se Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse was Wannie Carstens, Rufus Gouws en Ernst Kotzé.

Die beoordelaars het eenparig besluit dat die Senior Tweetalige Woordeboek, Afrikaans-Engels/English-Afrikaans vir graad 10 tot 12 (2023), uitgegee deur Pharos Woordeboeke, vanjaar met die ATKV-Woordwystoekenning bekroon word.

Volgens die beoordelaars is dit noodsaaklik dat leerders reeds op skool vertroud moet raak met verskillende woordeboeksoorte en ook die gebruiksvaardighede moet aanleer om woorde daarin te kan naslaan. 

Skoolwoordeboeke vorm ’n wesenlike deel van taalopleiding, en dit is uiters belangrik dat daar verskillende skoolwoordeboeke vir verskillende fases van primêre en sekondêre onderrig, asook vir verskillende gebruiksituasies moet wees.

Met die Senior Tweetalige Woordeboek, Afrikaans-Engels/English-Afrikaans slaag Pharos daarin om ’n produk te lewer wat op die behoeftes van ’n spesifieke teikengebruikersgroep afgestem is en wat dié groep se leksikografiese behoeftes, asook hulle woordeboekvaardighede in ag neem.

Hierdie woordeboek, saamgestel vir leerders in graad 10 tot 12, is ’n plesier om te gebruik en bied nuttige leiding aan sy gebruikers. Daar is meer as 50 000 trefwoorde, en saam met voldoende vertaalekwivalente vir die Afrikaanse en Engelse trefwoorde is daar ook ander inligting soos woordverdeling, hoofklem en woordsoorte.

Konteksleiding help die gebruiker om die regte vertaalekwivalent te kies, en voorbeeldsinne wys hoe ’n betrokke woord gebruik moet word. As ’n bonus is daar ’n bylaag met idiome en spreekwoorde wat die taalgebruikers help om die idiomatiese woordeskat van Afrikaans en Engels reg in te span.

Die uitleg van die woordeboek is vriendelik, met die trefwoorde wat in blou vetdruk gegee word en maklik opspoorbaar is. Goeie gebruiksriglyne help die gebruikers om dit waarna hulle op soek is, makliker te kry.

Pharos se Senior Tweetalige Woordeboek nooi die leerders uit tot woordontdekking  waardeur die Afrikaanse leksikografie terselfdertyd verryk word. Om al hierdie redes is dié woordeboek ’n waardige ontvanger van die Woordwystoekenning vir 2024.

In die kategorie Prys vir Spanningslektuur, een van die vinnig groeiendste en gewildste genres in Afrikaans, was die beoordelaars Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen.

Die wenner is Leo – Deon Meyer (Human & Rousseau).

Die beoordeelaars het die volgende te sê gehad oor die wenroman:

Leo is slim ingedeel en fokus op verskillende storielyne en karakters wat uiteindelik netjies bymekaar aansluit. Die spanning is snaarstyf, maar getemper met goeie, intelligente humor.

Hy onderskat nie sy lesers nie en skryf vir ’n intelligente gehoor.

Die manier waarop hy die verskillende storielyne bymekaar trek, is vindingryk. Die vermenging van aksie met die persoonlike dilemmas van die karakters help om die leser se aandag te hou en te laat inkoop in die lot van die karakters.

Die Prys vir Niefiksie se beoordelaarspaneel het bestaan uit Jean Meiring, Martie Retief Meiring en Bettina Wyngaard. Die wenner in hierdie kategorie is Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so? – Anelia Heese (Tafelberg).

Hierdie teks is nie net uitstekend nagevors nie, maar dit is ’n aangrypende blik op ’n tydvak in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat nog nie regtig behoorlik ontgin was uit die perspektief van die destydse jong mans aan die ontvangkant van diensplig, of hoe dit hulle langtermyn beïnvloed het nie. Heese slaag daarin om die diep menslikheid van hierdie mans vas te vang sonder om ooit te probeer preek. Dis ’n teks wat lank sal bybly.

Die ATKV-Prosaprys is een van die oudste en mees gerespekteerde letterkundepryse in Afrikaans. Dit word reeds sedert 1984 toegeken aan die skrywer van die beste gewilde prosa wat in die voorafgaande jaar verskyn het.

Vanjaar se beoordelaars vir die ATKV-Prosaprys was Marni Bonthuys, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe.

Die wenner in die kategorie is Van vaders en vlugtelinge S.J. Naudé (Human & Rousseau).

S.J. Naudé hanteer uiters moeilike en vervreemdende temas in hierdie roman, maar kry dit reg om dit so goed onder woorde te bring, dat ’n mens die boek maklik in een sitting lees. Dit is ’n ontstellende teks wat veral die pa-seun-verhouding ontgin. Hierdie tema is nie nuut in Afrikaans nie, maar Naudé ondersoek dit vanuit ’n unieke, verrassende invalshoek. Die skrywer vang sy generasie se gevoel van ontheemding, bywonerskap in hierdie wêreld, landskap en grond vas. Hy ondersoek, geslaagd, die spanning en teenstand van vorige Afrikanergeslagte se strewe om ‘behoudenis’.

Die wyse waarop verskillende ruimtes en tydvakke in verskillende hoofstukke/afdelings met mekaar geskakel word, is uitsonderlik sterk. Die skrywer toon vaardige en meesterlike beheer van verhaal en taal. ’n Roman wat by ’n mens spook.

Die ATKV-Kinderboektoekennings word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het, te bekroon.

Die beoordelaars is jong lesers self, iets wat hierdie toekennings van ander onderskei. 

Die ATKV-Kinderboektoekennings is daarop gerig om kinders te laat lees en leesbevordering aan te moedig. Terselftertyd word erkenning verleen aan skrywers, uitgewers en illustreerders vir hulle toegewyde werk.

Jong lesers se keuses vir die beste kinderboeke van die jaar is soos volg:

Voorleeskategorie: Graad RR – 1

  • Skrywer: Zuléka Smit (LUCA) – Ben en die groot toets
  • Illustreerder: Johann Strauss (LUCA) – Ben en die groot toets

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

  • Skrywer: Riana Scheepers (LAPA Uitgewers) – Saartjie die spinnekop met sewe bene
  • Illustreerder: Elsabé Ebersöhn (LAPA Uitgewers) – Saartjie die spinnekop met sewe bene

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

  • Skrywer: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) – Ouma Mollie gaan terug skool toe
  • Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Ouma Mollie gaan terug skool toe

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

  • Skrywer: Jaco Jacobs (Pan Macmillan SA) – Vroteier

Selfleeskategorie: Graad 8 – 9

  • Skrywer: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) – Krag

Vanjaar gaan die ATKV se Toekenning vir Leesbevordering aan Christina Simelane, ’n onderwyseres van Mpumalanga en stigter van Raise a Reader Platform.

“No man has a right to bring up children without surrounding them with books” – Horace Mann

Christina Simelane het haar daartoe verbind om ’n biblioteek in Daantjie buite Mbombela tot stand te bring.  Daar is geen openbare biblioteek in hierdie area nie.

“’n Biblioteek kan ook ’n veiliger studie-opsie bied aan leerders,” sê Simelane, wat onbaatsugtig bydra tot die ontwikkeling van haar landelike gemeenskap.

Die biblioteek gaan vernoem word na die 16-jarige Nomthandazo Mbatha, wat een aand in 2019 tragies vermoor is toe sy op pad was na ’n vriend vir ’n studiesessie.

Daantjie is ’n vinnig groeiende landelike gemeenskap, en Simelane het in 2013 op die gedagte gekom om ’n gemeenskapsbiblioteek te bou. Sy het sedertdien 2 500 boeke bymekaargemaak.  Die biblioteek sal ook as ’n leer- en navorsingsentrum vir leerders dien sowel as ’n vaardigheidsontwikkelingsentrum vir die gemeenskap.

Die gemeenskap sal toegang tot inligting hê en hulle sal ook die internet gratis kan gebruik.

“Nomthandazo se dood was ’n wekroep. Dit het my aangespoor om met veiligheidsoplossings vir ons kinders, veral die meisies, vorendag te kom,” sê Simelane, wat met ’n fondsinsameling begin het sodat bouwerk aan die biblioteek kan afskop en meer boeke ingesamel kan word.

Enige geldelike skenkings of boeke, boumateriaal, rekenaars of meubels, en bydraes vir water en elektrisiteit sal waardeer word.

Intussen sit Simelane nie stil nie en bied sy leesprogramme by die plaaslike skole aan en daar is ’n boektrollie waar leerders boeke kan uitneem.  Sy is verbind daartoe om geletterheid by leerders te bevorder en vir hulle toegang tot boeke te gee. Sy het ook ’n voedingskema wat aanvullend en ondersteunend tot die Raise a Reader Platform funksioneer.

Hartlik geluk aan al die wenners. Jul toewyding en passie vir die geskrewe woord maak Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar in elke leser se lewe en daarvoor eer ons julle.