Dit is weer daardie tyd van die jaar wat die ATKV skrywers se uitsonderlike pennevrug, toewyding en kreatiwiteit vier. Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord.
Die kategorie vir Prys vir Liefdesroman se beoordelaars was Malene Breytenbach, Shireen Crotz en Ilse Salzwedel met die wenner: Elisabet se oorlog – Helene de Kock (Human & Rousseau).
Romanses, of korter liefdesverhale, is waarskynlik die topverkoper-genre in Afrikaans, en die beoordelaars moes behoorlik kopkrap om ’n wenner te kies uit al vanjaar se inskrywings.
Die beoordelaars was Carol-Ann Alexander, Amanda Claasens en Kobie van Aswegen met die wenner: Die Kersfeeslysie – Dina Botha (Romanza).
Poësie is ’n treffende manier om die skoonheid van Afrikaans te verwoord, en verskeie digbundels het meegeding vir die Prys vir Poësie. Die beoordelaars in hierdie kategorie was Diana Ferrus, Bibi Slippers en Christo van der Westhuizen met die wenner: Klinkklaar – Daniel Hugo (Protea Boekhuis).
Drama gee lewe aan die letterkunde, en vanjaar se dramatekste is beoordeel deur Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Wim Vorster. Die wenner vir die Prys vir Dramateks is vanjaar: Oom Bey, my pa – Henque Heymans.
In die kategorie: Prys vir Spanningslektuur, een van die vinnig groeiendste en gewildste genres in Afrikaans was die beoordelaars: Thys Human, Valda Jansen en Bettina Wyngaard, met die wenner: Rudie van Rensburg – Hartedief (Quellerie).
Die Prys vir Niefiksie se beoordelaarspaneel het bestaan uit Willie Breytenbach, Jean Meiring en Martie Retief Meiring met die wenner: Van Humpata tot Upingtonia – Nicol Stassen (Protea Boekhuis).
Vanjaar se beoordelaars vir die ATKV-Prosaprys was Francois Bekker, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe met die wenner: Vier susters – Gerda Taljaard (Penguin Random House SA).
Die doel van die ATKV-Woordwystoekenning is om praktykgerigte naslaanbronne te bekroon vir hul bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans in die praktyk. Die ATKV hoop ook dat die toekenning belangstelling in woordeboeke en taalgidse onder taalgebruikers en uitgewers sal aanwakker. Die beoordelaarspaneel vir vanjaar se Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse was Rufus Gouws, Marné Pienaar en Gerhard van Huyssteen. Die beoordelaars beveel aan dat die ATKV-Woordwystoekenning vir 2022 toegeken word aan die Kunswoordeboek/Arts Dictionary (2021) onder redakteurskap van Alex Duffey en Susan Roets. Dis uitgegee deur Protea Boekhuis.
’n Seun wat sy liefde vir lees met ander wou deel het die laaste agt jaar duisende boeke aan ander jong lesers geskenk.
Die ATKV kon dus nie anders nie as om ’n ATKV-Woordveertjie toe te ken aan die 17-jarige Sheldon Spear, ’n graad 12-leerder aan die Curro Waterstone College in Kibler Park in die suide van Johannesburg vir sy projek Need2Read.
“As deel van die ATKV-Woordveertjies gee ons elke jaar ’n Toekenning vir Leesbevordering aan ’n organisasie of persoon wat ’n bydrae maak tot die bevordering van lees. Sheldon is ’n absolute inspirasie en sy bydrae gaan nog lank in die lewe van ander jong mense eggo,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW.
As deel van die Woordveertjies word die ATKV-Kinderboektoekennings aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke te bekroon wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Die beoordelaars van hierdie toekennings is jong lesers self. Dit onderskei hierdie projek van alle ander toekennings.
Die ATKV-Kinderboektoekennings is daarop gerig om kinders te laat lees en leesbevordering aan te moedig. Terselfdertyd word erkenning verleen aan skrywers, uitgewers en illustreerders vir die belangrike rol wat hulle speel om jong mense aan die lees te kry.
“Dis vir die ATKV ’n groot voorreg om elke jaar eer te gee aan dié wat dit vir kinders en tieners moontlik maak om nuwe wêrelde te ontdek deur die geskrewe woord,” sê Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW.
“Vanjaar se kinderboeke is geen uitsondering nie en die inskrywings was van hoogstaande gehalte. Ek glo elke kind wat as ‘beoordelaar’ opgetree het, het hom-/haarself gate uit geniet en op die koop toe sy/haar horisonne verbreed.”
Die jongspan se keuses vir die beste kinderboeke van die jaar is soos volg:
Voorleeskategorie: Graad RR – 1
- Skrywer: Liz de Villiers (Human & Rousseau) – Tjoppie se verjaardag
- Illustreerder: Vian Oelofsen (Human & Rousseau) – Tjoppie se verjaardag
Selfleeskategorie: Graad 2 – 3
- Skrywer: Jaco Jacobs (Pan Macmillan SA) – Krok en Dil
- Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Ouma Mollie en die mensvreter
Selfleeskategorie: Graad 4 – 5
- Skrywer: Peti Troskie (LAPA Uitgewers) – Lukas bou ’n superkar
- Illustreerder: Hjalmar Pretorius (LAPA Uitgewers) – Lukas bou ’n superkar
Selfleeskategorie: Graad 6 – 7
- Skrywer: Daniëlla van Heerden & Megan Werner (Pan Macmillan SA) – As jy droom
Selfleeskategorie: Graad 8 – 10
- Skrywer: Jacolet van den Berg (LAPA Uitgewers) – Tyd om te skaats