ATKV-projekte verruim musikale landskap
Dis vanjaar presies vyftig jaar sedert die eerste ATKV-Crescendo aangebied is en onder die vorige wenners tel Jak de Priester, Réana Nel, Anna Davel, die Coleskes, Innes en Franna Benadé, Karin Hougaard, Anneli van Rooyen, Rina Hugo en Randall Wicomb. Wat met ATKV-Crescendo bereik is, het eintlik ’n soort bloudruk geword vir die ATKV se musiekprojekte wat vandag nie net platforms bied vir nuwe talent nie, maar ook ’n wye spektrum gemeenskappe in die land bereik en help ontwikkel.
Rouel Beukes – deesdae ’n gevestigde operasanger – was ’n onderwysstudent toe hy Crescendo in 1974 gewen het. Hy skryf op sy webwerf Crescendo “het baie deure vir my oopgemaak en my daaraan laat dink om van sang ’n loopbaan te maak”.
Net soos ATKV-Crescendo kom ATKV-Applous, die ATKV se koorkompetisie vir hoër- en laerskole, al ’n lang pad. Die ATKV het verlede jaar ’n toekenning van die Wes-Kaapse minister van sport, kuns en kultuur ontvang vir die sukses wat met dié twee projekte bereik is. “Deur hierdie inisiatiewe speel die ATKV ’n kritieke rol in die verryking van ons land se kulturele weefsel en die bevordering van die waardes van inklusiwiteit en diversiteit,” lui die commendatio.
Oor die jare het die ATKV verskeie nuwe musiekprojekte begin en bestaandes uitgebrei.
“Crescendo het byvoorbeeld ontstaan omdat daar ’n behoefte was om ’n ligteliedjie-kompetisie te begin om die bedryf te stimuleer en talent te ontgin,” verduidelik Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV.
Daar is baie ander talentkompetisies in die land waaraan voornemende kunstenaars kan deelneem, maar baie van die wenners geniet ’n oomblik in die kollig, word dan aan hul eie genade oorgelaat en verdwyn van die radar af. Wat die ATKV se musiekprojekte onderskei, is dat daar aktief belê word in ménse. “Ons gee vir mense ’n plek om te begin, skep vir hulle ’n platform en stap ’n pad met hulle,” verduidelik Gerrie.
Dit behels alles van mentorskappe tot opleiding aan jong kunstenaars oor hoe om jou handelsmerk te bestuur, wat om in gedagte te hou as jy ’n kontrak onderteken en hoe om jouself te bemark. Die ATKV doen ook deurlopend behoeftebepalings in gemeenskappe om te sien waar ’n verskil gemaak kan word deur taal- en kultuurprojekte.
Een van die ander groot suksesverhale is die jaarlikse ATKV-Rieldanskompetisie. Dit het ontstaan, sê Gerrie, toe die skrywer Elias P Nel – wat op Verneukpan in die Noord-Kaap grootgeword het – vertel het van hierdie besondere dansvorm uit sy jeug wat besig is om uit te sterf. “Elias het gesê daar is omtrent net een of twee groepe in Suid-Afrika oor wat dit beoefen.”
Die riel word allerweë gereken as die oudste dansvorm in Suider-Afrika en die kultuurhistoriese belangrikheid daarvan was dadelik vir die ATKV duidelik. “Dit gaan nie net oor die dansvorm nie, maar ook oor die musiek en verhale wat daarmee saamkom. Dis deel van ons lewende erfenisprojekte,” sê Gerrie.
Kers is opgesteek by kenners, soos wyle tannie Grietjie Adams van Garies, wat onder meer gelei het tot navorsing oor en die dokumentering van die rieldans. Die ATKV se eerste Rieldanskompetisie is in 2006 van stapel gestuur. Vandag is daar sowat 120 groepe rieldansers – en dis veral die junior dansgroepe wat dié kultuurdiamant opnuut laat skitter.
Of dit nou die plesierigheid van ’n rieldans is, die konsentrasie van ’n koorsanger op soek na die perfekte harmonie, of ’n kletsrymer wat die spoeg laat spat – plek is daar vir almal. Soos Afrikaans metterjare haar vlerke wyer begin sprei het en meer inklusief geraak het, het die ATKV se projekte ook diversiteit omarm.
Crescendo se handelsmerk is byvoorbeeld in 2014 verander. Dié vlagskipprojek staan sedertdien bekend as “ATKV-Crescendo – waar legendes gebore word” – met ruimte vir alles van reggae tot hip-hop. “Dit gaan vir ons oor kwaliteit, nie kwantiteit nie. Daar is soveel rou talent in gemeenskappe, mense wat nooit die kans sal kry om op ’n verhoog te verskyn nie.
Ons gaan soek hulle, ondersteun hulle vir twee tot drie jaar en help hulle tot hulle byvoorbeeld ’n enkelsnit, album of musiekvideo in die mark het,” sê Gerrie. Die ATKV skep ook deur vennootskappe met kunstefeeste geleenthede vir dié kunstenaars op op te tree.
Deur ATKV-Crescendo se Platformsessies tree jong kunstenaars saam met voormalige wenners op. Voor ’n intieme gehoor gesels hulle oor wat ATKV-Crescendo vir hulle beteken, oor hul musiek en kry hulle kans om mekaar se liedjies te sing en nuut te interpreteer. Gerrie verklap dat die plan vanjaar is om Karin Hougaard by dié sessies te betrek.
Nie net word nuwe kunstenaars ontdek nie, maar die Afrikaanse musiekskat word verryk. Gerrie verwys na Crescendo-finaliste wat byvoorbeeld gevra is om ’n feeslied te skryf vir die dertigjarige bestaan van die Vriende van Afrikaans. Net so word die Afrikaanse skatkis van koorliedere deurlopend uitgebou, met ’n nuwe komposisie wat jaarliks as voorgeskrewe werk vir ATKV-Applous saam met Afrika-liedere en internasionale liedere voorgehou word.
ATKV-Applous se gewildheid blyk duidelik uit skole se bemarking. Om jouself as ’n “Applous-wenner” te lys, het prestige. En prestige is waaroor dit gaan, want daar is geen prysgeld nie, net ’n baie gesogte titel op die spel. Gerrie verduidelik dat ATKV-Applous ook internasionaal geakkrediteer is as koorkompetisie by die World Choir Games, sodat kore en koorleiers hulself op ’n ranglys aan die bestes van die bestes kan meet.
Die ATKV het ook ’n koormusiekfees vir universiteite, ’n musiekkompetisie vir alternatiewe musikante en groepe en ’n sêrkompetisie vir hoërskole, waar nuwe vriendskappe gebou word en saam gejol word – in Afrikaans. En dis waaroor dit uiteindelik gaan – die volhoubare ontwikkeling van Afrikaans. En in die proses gee die ATKV vlerke aan drome… en kry jy kans om sommer ook te dans dat die stof so staan.