ATKV se toneelaanbod is slaggereed en grensloos in 2023!
Die jaar 2022 was ’n groot hoogtepunt vir die ATKV se toneelaanbod, deurdat duisende toneelliefhebbers hul terugkeer gemaak het na die verhoog en dreunend dapper ook spel vir die kamera aangedurf het.
ATKV-Tienertoneel het weer sy volle kapasiteit bereik met 172 produksies wat landswyd meegeding het om as die beste produksie gekroon te word. ATKV-DigiToneel se deelnemers het tydens die tweede seisoen van die ATKV se realiteitsreeks Gekies vir die Kollig op DStv opspraak gemaak en daar was verbysterende groei van 400% in deelname aan die ATKV se jongste toneelkompetisie, ATKV-Tjokkertoneel, sedert sy eerste aanbieding voor die Covid-19-pandemie in 2019.
“Die kreatiwiteit en entoesiasme waarmee deelnemers die ATKV se toneelprojekte aanpak, is grensverskuiwend. Hulle gee die pas aan van hoe die ATKV sy projekte moet vernuwe en aanpas om met hierdie talent en passie by te hou,” is die mening van JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV se toneelaanbod.
Die spyskaart is opgedis en van die resepte is bietjie aangepas om in 2023 vir alle deelnemers ’n unieke ervaring te beloof.
“Ons put in 2023 inspirasie uit die tema, ‘GRENSLOOS’,” noem JJ. Hy verduidelik dat die ATKV se deelnemers graag die toneelplatforms gebruik om vreesloos te eksperimenteer en dat jy ’n konsep baie moeilik in ’n boksie kan druk of jou vinger op ’n wenresep kan neersit.
“Dit is presies wat ons wil hê deelnemers moet doen!” benadruk JJ toe hy die uitnodiging rig aan huidige en voornemende deelnemers om die spreekwoordelike grense te oorskry in 2023 en verder die pas aan te gee vir die film- en teaterindustrie om te groei. “Kom wees saam ‘GRENSLOOS’!”
Die ATKV-Tienertoneelkompetisie kweek ’n liefde vir toneelskepping in Afrikaans, toneelspel en teater-kyk by hoërskoolleerders. Dié oudste projek van die ATKV bied ’n platform vir talentontwikkeling en is ’n smeltkroes van kreatiwiteit. Met ATKV-Tienertoneel word elke regisseur aangemoedig om die leerders soveel geleenthede as moontlik te gee om by al die aspekte van die projek betrokke te raak, met ander woorde by die spel en regie, skryf van tekste, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie, ensovoorts.
Laai die deelnemersgids hier af.
Inskrywings is reeds oop en kan hier voltooi word.
ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners om hul eie monoloë onder ’n nuwe temawolk te skryf en dan vir beoordeling te verfilm. Die ATKV gaan hierdeur in sy doel slaag om ’n liefde vir toneelskepping en film te bevorder deur op kameraspel, kinematografie en die skryf van tekste te fokus.
Ons finaliste maak hul buiging op televisie met die ATKV se realiteitsprogram, Gekies vir die Kollig, wat in Oktober 2023 sy derde seisoen op DStv-kanaal 147 (VIA) uitsaai.
Ontwikkel jou spel vir die kamera en gee jou skryftalent vlerke saam met ons mentors!
Die deelnemersgids is hier beskikbaar.
Inskrywings vir individue is reeds oop en kan hier voltooi word.
Inskrywings vir groepe kan hier voltooi word.
Met ATKV-Tjokkertoneel word laerskole aangemoedig om jong leerders bloot te stel aan teaterkuns en drama deur middel van mini-tonele.
Deur die opbouende proses van toneelspel, ontwikkel die leerders selfvertroue, kommunikasie- en luistervaardighede, en verbreed hul woordeskat.
Kom leef dus jou liefde vir toneel uit en betower gehore op die ATKV-Tjokkertoneelverhoog met jou laerskool se beste mini-toneel.
Laai die deelnemersgids hier af.
Inskrywings is reeds oop en kan hier voltooi word.
Die ATKV is verder baie opgewonde om aan te kondig dat al die finaliste van die ATKV se totale toneelaanbod vanaf 1 tot 3 Oktober in sy eerste ATKV-Jeugteaterfees te Gold Reef City se Lyric Theatre op die planke is.
Ons is opgewonde om elke deelnemer se besonderse bydrae en harde werk te aanskou, te waardeer en te mentor in Suid-Afrika se smeltkroes van kreatiwiteit, wat in 2023 grensloos gaan skitter.