ATKV-toneelaanbod simbioties gereed vir gehore
Die ATKV se toneelaanbod is jaarliks ’n smeltkroes van kreatiwiteit, passie en talentontwikkeling wat die samelewing anders laat asemhaal.
Die tema waarmee deelnemers vanjaar die gordyn gaan lig, is simbiose. Die intensie van die tema is om gehore, spelers en stories te laat saamleef om die verskil te kan wees sodat deelnemers saam in mekaar en in die toekoms van ons land en sy mense kan belê.
Vier toneelprojekte
Die vier innoverende projekte wat saam onder die ATKV-toneelaanbodsambreel leef, spog vanjaar met nie minder nie as 4 186 jong, talentvolle deelnemers.
Al die deelnemers aan die ATKV-toneelaanbod het die onvergeetlike voorreg om hul produksies in ’n teater aan te bied. Hierdie teaters is nie net toegerus met topgehalte- tegniese toerusting nie, maar is ook gevul met nostalgie, stories en die kultuur van veteraanakteurs en ikoniese teaterwerke wat ons jong opkomende talent sal inspireer om in simbiose hul bes te lewer.
Toneelstreeksfeeste word aangebied in die UNISA Little Theatre (Pretoria), die Wynand Mouton-teater (Bloemfontein), die Playhouse Drama Theatre (Durban), die Pam Golding Baxter-teater (Rondebosch) en die Little Theatre (Gqeberha). Die simbiotiese nasionale finaal word in die Kunstekaap (Kaapstad) se dramateater aangebied.
ATKV-DigiToneel word op die spits gedryf deur die ATKV se eie realiteitsprogram, Gekies vir die Kollig, waarvan die vierde seisoen weer vanjaar op DStv-kanaal 147 (VIA) uitgesaai word.
ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners om hul eie monoloë onder ’n nuwe temawolk te skryf en dan vir beoordeling te verfilm. Hierdie projek het reeds in Maart afgeskop en ons topagtfinaliste is nou in die laaste voorbereidingsfase om hul finale opname te verfilm ná vyf maande se mentorskap. Die vierde seisoen van Gekies vir die Kollig word vanaf 14 Oktober op DStv-kanaal 147 (VIA) uitgesaai.
ATKV-Sêr is die nuutste toevoeging tot die ATKV se toneelaanbod en is ’n a capella-kompetisie wat in sy tienerformaat gaan neig na musiekteater deur tema, sang, dans en storievertelling. Hierdie sêrproduksies gee simbioties die toon aan by verskeie ATKV-Tienertoneelstreeksfeesfinale in Pretoria (17 en 24 Augustus), Durban (20 Julie) en in Kaapstad (24 Augustus). ATKV-Sêr se nasionale finaal vind op Maandag 23 September plaas.
ATKV-Tjokkertoneel is die ATKV se vinnigste groeiende projek wat laerskoolkinders deur toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan goeie literatuur aanmoedig.
Slim en opwindende mini-tonele van 25 minute elk is die wenresep om hierdie jong akteurs aan teaterkuns en drama bloot te stel. Hierdie opbouende proses van toneelspel ontwikkel kinders se selfvertroue, kommunikasie- en luistervaardighede, en verbreed hul woordeskat.
Kom leef landswyd saam in die verbeeldingswêreld van 900 tjokkers in 50 produksies tydens die Gauteng-streeksfees vanaf 17 tot 20 Julie in die UNISA Little Theatre (Pretoria), die Bloemfontein-streeksfees in die Wynand Mouton-teater op 2 en 3 Augustus en die Wes-Kaap-streeksfees vanaf 12 tot 14 Augustus in die Pam Golding Baxter-teater in Rondebosch.
Die ATKV-Tjokkertoneelfinaal is ook aan die einde van September deel van die Simbiose-finaal in die Kunstekaap (Kaapstad). Die heel beste tjokkerproduksies sal genooi word om op 27 September hul simbiotiese slag te wys.
ATKV-Tienertoneel is die oudste projek van die ATKV en is in 2024 sestig jaar jonk. Dit is die grootste nasionale toneelprojek in Suid-Afrika en bied ’n unieke platform wat fokus op talent- en kreatiwiteitsontwikkeling.
ATKV-Tienertoneel se unieke aanbiedingsformaat ontwikkel die jeug se liefde vir toneelspel deurdat die deelnemers aan elke produksie na afloop van elke optrede met mentorbeoordelaars, wat hul stempel afgedruk het in die vermaaklikheid- en tersiêre-onderrigbedryf, in ’n tweerigtingsgesprek tree oor hul werk tydens opwindende mentorwerkswinkelsessies.
Vanjaar neem 3 000 tieners in 187 produksies vanaf 18 Julie tot 24 Augustus aan nege streeksfeeste regoor Suid-Afrika deel.
Die topagtproduksies word genooi na die Simbiose-finaal en is vanaf 23 tot 28 September deel van die hoofprogram in die Kunstekaap.
Moet nie hierdie fees van toneel misloop nie! Besoek die volgende skakel vir programme en kaartjies na die eersdaagse streeksfeeste en leef in ’n teater naby jou saam met die talent van ons jeug wat simbioties die planke tref: https://linktr.ee/atkv_toneel