Is jy passievol oor gedigte en wil jy nog altyd groot skares met jou helder voordragstem beïndruk?
Wat is dan mooier as Afrikaanse gedigte? Die ATKV wil vir jou die geleentheid gee om hierdie deel van ons taalerfenis te vier deur ATKV-DigiVoordrag.
ATKV-DigiVoordrag gee jou die platform en podium om van die prettigste en pragtigste Afrikaanse poësie met ’n waarderende gehoor te deel.
Dit maak nie saak hoe jou stem klink nie en jy hoef ook nie pennetjieregop met stywe klere op ’n verhoog te staan nie. Kies net jou mooiste Afrikaanse gedig wat jy lekker met gemak en selfvertroue kan voordra. Laat die mense skaterlag met ’n prettige, komiese gedig of laat hulle ’n traan pink met iets roerend.
Klim op ons digitale wêreldverhoog! Kry net jou slimfoon, rekenaar of tablet en skep jou eie ruimte met ’n goeie internetverbinding tuis of elders op die aardbol. Nou kan jy die mense wêreldwyd meevoer deur jou Afrikaanse gedig meesleurend voor te dra, op te neem en die video vir ons te stuur.
DEELNEMERSGIDS & INSKRYWINGSVORM 2024