Die ATKV-Jeugberaad is ’n jaarlikse ATKV-inisiatief wat spesifiek vir oopkopdenkers in graad 10 en 11 ontwikkel is. Hierdie opwindende byeenkoms bied aan leerders die unieke geleentheid om saam te kom gesels oor aktuele sake soos politiek, die ekonomie, die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte, die onderwys, tegnologie en die samelewing – almal belangrike temas wat ’n direkte invloed op leerders se lewens het. Dit is nie net ’n geleentheid om hul perspektiewe te verbreed nie, maar ook om nuwe insigte te verwerf en aktief deel te neem aan die gesprekke wat die toekoms vorm.
By die ATKV-Jeugberaad tree ervare sprekers op wat leerders ’n dieper begrip van die wêreld om hulle bied. Sprekers soos Albert van Wyk (How to Become a Millionaire at 22), Dawie Roodt (Efficient-groep), Pieter du Toit (News24), Deon Meiring (Glaskas) en prof. Edwin Theron (Universiteit Stellenbosch) deel hul kennis en ervarings om leerders te inspireer en aan te moedig om aktiewe deelnemers in die samelewing te wees.
Die program sluit ook ontspanningsaktiwiteite in, waar leerders die geleentheid kry om die fasiliteite van die ATKV-oorde te geniet en sterk vriendskapsbande met hul eweknieë van ander skole te vorm. Hierdie bande bly dikwels voortbestaan selfs nadat die ATKV-Jeugberaad verby is, en dra by tot ’n ryker skoolervaring.
Alle deelnemers aan die ATKV-Jeugberaad ontvang ’n ATKV-bywoningsertifikaat as erkenning vir hul deelname en betrokkenheid.
Vir meer inligting oor die ATKV-Jeugberaad, kontak asseblief vir Magon Mouton by magonm@atkv.org.za, of skakel 011 919 9051.